• Tuisblad
  • Sake
  • Afrika se grootste Coke-botteleerder open deure
Afrika se grootste Coke-botteleerder open deure
Afrika se grootste Coke-botteleerder open deure

Afrika se grootste Coke-botteleerder open deure

Jo-Mare Duddy Booysen
Nellie Brand-Jonker - Die transaksie wat gelei het tot ’n nuwe enorme botteleringsonderneming, Coca-Cola Beverages Africa, is die naweek afgehandel en die maatskappy het gister met die eerste dag van bedrywighede begin.
Die maatskappy is die grootste botteleerder van Coca-Cola in Afrika en is geskep uit die samesmelting van al die koeldrankbotteleringsondernemings van SABMiller, The Coca-Cola Company en Gutsche Family Investments (GFI).
Die Gutsche-familie het in die 1960’s die alleeneienaars van die South African Bottling Company (Sabco) geword, wat al in die 1940’s begin het om Coke in Suid-Afrika van Port Elizabeth af te bottel. Die maatskappy is later na Coca-Cola Sabco hernoem, wat deel was van die transaksie.
Die samesmelting het vier van die vyf gemagtigde Coca-Cola-botteleerders in Suid-Afrika onder een maatskappy se vlerk ingesleep.
Die nuwe maatskappy word deur SABMiller beheer, terwyl Coca-Cola en GFI minderheidsaandeelhouers is.
Die transaksie het ingesluit dat SABMiller die volgende handelsmerke aan The Coca-Cola Company oordra: Appletiser, Grapetiser, Fruitiser, Peartiser en Lecol.
Die nuwe maatskappy bottel vrugtesap, water en energiedrankies.
Die samesmelting is in Mei reeds deur die Mededingingstribunaal goedgekeur.
Die transaksie is Saterdag voltooi nadat alle nodige goedkeuring ontvang is.
Die nuwe maatskappy het twee Suid-Afrikaanse filiale – Coca-Cola Bottling Southern Africa (CCBSA) en Appletiser. Die nuwe maatskappy gaan sowat 40% van alle Coca-Cola-produkte wat in Afrika verkoop word, produseer en versprei.
Sy hoofkantoor bly in Suid-Afrika.
Een van die tribunaal se voorwaardes vir die transaksie was dat die huidige bedrywighede en geriewe vir die produksie van Appletiser in plek bly. Dit het ingesluit dat die verhouding van plaaslike insette in die maak van Appletiser behou word. Dit het ook ingesluit dat ten minste 80% van die appels, pere, druiwe en ander vrugte wat gebruik word vir die vrugtesapkonsentraat van Suid-Afrika afkomstig moet wees.
Nog ’n voorwaarde was dat die nuwe maatskappy sy swartbemagtigingseienaarskap binne vyf jaar van 11% tot 20% moet verhoog.
Boonop moet ten minste 20% van die aandele in Appletiser aan ’n maatskappy of konsortium in swart besit verkoop word. Die tydsduur is nie bekend nie en is vertroulik.
Die nuwe maatskappy het ook onderneem om binne die komende vyf jaar R400 miljoen te bestee om verskaffers, kleinboere en winkels te ontwikkel en om sakevaardighede aan ’n bykomende 25 000 swart kleinhandelaars van sy produkte te verskaf.
Voorwaardes is ook vir afdankings gestel. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-09-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer