Afrika-leeu brul in VSA
Afrika-leeu brul in VSA

Afrika-leeu brul in VSA

Kan Ambunda 'n sonderlinge sukses vir Namibië op Amerikaanse bodem behaal?
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Paulus Ambunda, die Internasionale Boks­organisasie (IBO) se superkapokgewig wêreldkampioen, klim môre in die VSA (Sondag in Namibië se nagtelike ure) deur die toue om dié titel vir die eerste keer te verdedig.

Ambunda het geen bekendstelling in Namibië nodig nie. Die sakgrootte vegter met die durf van 'n Afrika-leeu het sy land in die verlede met onder­skeiding verteenwoordig, maar die naweek wag sy debuut op Amerikaanse bodem.

Hy en sy helpers het dié week die reis onderneem om die bokshandskoene by die 10 000-sitplek EagleBank-arena in Fairfax, Virginia teen Amerika se Stephen Fulton aan te trek.

Die 38-jarige Ambunda met die krytnaam El Jesus, het sy IBO-wêreldkroon verlede jaar September in Singapoer teen Muhamad Ridhwan (Singapoer) met punte oor 12 rondes beklink. Ambunda wat met 29 gevegte (27 gewen, twee verloor) spog, het 'n skatkis van ervaring aan sy kant.

Ambunda het sy buiging as geldvegter in 2007 gemaak, nadat hy Namibië as amateurbokser by die Afrika-spele en Olimpiese Spele verteenwoordig het.

Sy eerste titel was as Namibië se kapokgewigkampioen, wat hy in 2009 beklink het.

'n Maand later gordel hy die Wêreldboksorganisasie (WBO) se tussentydse Afrika-titel vas. Dié titel verdedig hy ses keer suksesvol en klim op 28 Julie 2012 teen William Prado (Brasilië) deur die toue om vir die WBO se vakante internasionale kapokgewigtitel te veg.

Met dié nuwe kroon stewig op sy kop soek Ambunda na nuwe weivelde en voeg die WBO-kapokgewig wêreldtitel op 2 Maart 2013 in Windhoek teen Panya Uthok (Thailand) by.

Met sy eerste geveg in Japan as wêreldkampioen teen Tomoki Kameda, verloor hy met 'n omstrede puntebeslissing teen die tuisbokser.

Die Afrika-leeu laat hom nie van stryk bring nie en hy veg terug om die Internasionale Boksfederasie (IBF) en Wêreldboksvereniging (WBA) se vakante internasionale superkapokgewigtitels teen Cristian Palma op 17 Mei 2014 op Omuthiya in te palm.

Op 1 Augustus 2015 klop hy Leandro David Esperante met punte in die hoofstad om die IBO se vakante superkapokgewig wêreldtitel op te raap. Hy verdedig dié titel op 5 Desember 2015 een keer suksesvol teen Jason Cooper (Australië) in Windhoek, maar skaars ses maande later slaan die noodlot toe.

Moises Flores klop Ambunda by die Ramatex-kompleks om as die nuut gekroonde wêreldkampioen van die IBO en WBA na Mexiko terug te keer.

Ambunda se volgende skuif vorentoe was op 29 Desember 2017, deur Nasibu Ramadhan van Tanzanië in Swakopmund vir die Wêreldboksraad (WBC) se internasionale silwer kroon ore aan te sit. Die volgende jaar was Muhamad Ridhwan aan die beurt en teen Sondag­oggend (Namibiese tyd) sal El Jesus weet of hy nog die IBO-wêreldkampioen is.

Die 24-jarige Fulton van Philadelphia, Pennsylvania, het met 15 gevegte nie dieselfde ervaring as Ambunda nie. Maar sy uitkloprekord van sewe met geen verloorgevegte nie sê baie van Fulton wat op 1.70 m 'n betekenisvolle 8 cm langer as Ambunda is. Fulton het ondanks sy onervarenheid reeds die onoorwonne rekords van 'n paar vegters beëindig en maak geen geheim daarvan nie dat hy homself as 'n wêreldkampioen beskou.

Ambunda word deur Imms Moses van African Connection (AC) Boxing Gym afgerig.

• Die uitgetrede weltergewig Frans (Rambo) Hantindi is sover bekend die enigste Namibiese vegter wat 'n oorwinning in Amerika behaal het. Hy het Omar Davila in 2006 in San Antonio, Texas, uitgeslaan. Nadat Harry Simon nooit in Amerika geboks het nie, het Paulus Moses, Walter Kautondokwa en Julius Indongo almal in die laaste twee jaar wêreldtitelgevegte in die VSA verloor.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer