Adcock se wins styg danksy sterker rand
Adcock se wins styg danksy sterker rand

Adcock se wins styg danksy sterker rand

Hanlie Stadler



Die sterker rand en prysstygings van meer as die inflasiekoers op oor-die-toonbank-medisyne het Adcock Ingram gehelp om sy winsgrens die afgelope ses maande te verbeter.

Die farmaseutiese maatskappy, wat onder meer Adco-Dol, Allergex, Alcophyllex en Napamol vervaardig, het sy totale omset met 7,4% tot R3,199 miljoen laat styg in die ses maande tot Desember 2017 en sy bruto winsgrens van 36,1% tot 38% verhoog.

Baie van die bestanddele vir medisyne moet van oorsee af aangekoop word en die sterker rand in die tweede helfte van 2017 vergeleke met dieselfde tydperk in 2016 het daarom die maatskappy se bedryfskoste verlaag.

Adcock Ingram laat blyk in sy ­Sens-verklaring oor die resultate verbruikers is steeds onder druk en verkies om pyn- en verkouemedisyne in kleiner verpakkings op 'n slag aan te skaf.

Só het die groep se onderskeie afdelings in Suider-Afrika gevaar:

• Die prys van Adcock se oor-die-toonbank-medisyne het met 8,8% gestyg. Tesame met die bekendstelling van nuwe produkte soos die Gap-reeks-aanvullings vir mense met chroniese toestande, het dit die omset van dié afdeling met 9,7% tot R970,7 miljoen laat styg.

• Adcock se afdeling vir voorskrifmedisyne kon sy omset slegs met 1,2% tot R1,021 miljoen verhoog. Dit is op die rug van gemiddelde prysstygings van net 5% (dié stygings word deur die regering beheer) en 'n styging van 1,9% in die volume produkte. Nietemin sê Adcock dié afdeling het markaandeel gewen.

• Adcock se afdeling vir verbruikersprodukte, wat onder meer sonskermmiddels insluit, het sy omset met 10,3% tot R369,5 miljoen laat groei. Die afdeling se volume het met net 1,8% gegroei en prysstygings was “nietig”. Die stewige omsetgroei is te danke aan die verkryging van die Island Tribe-reeks sonskermmiddels, sê die maatskappy.

• Die groep se afdeling vir hospitale kon sy omset met net 3,6% tot R686,4 miljoen verhoog. Die maatskappy het in September 'n groot driejaarkontrak losgeslaan vir 80% van die parenterale middels (onder meer binneaarse voeding en inspuitings) wat staatshospitale benodig.

Andy Hall, uitvoerende hoof, sê die bedryfsomgewing in Suid-Afrika bly “uitdagend” weens die voortgesette druk op verbruikers.

“Nietemin bly die maatskappy mededingend geposisioneer om sy ­handelsname te verdedig en uit te brei.

Die direksie bly daartoe verbind om langtermyngroei te verseker om aandeelhouerswaarde te skep deur die produkreeks uit te brei deur vennootskappe en verkrygings.”

In syfers

• Totale omset styg met 7,4% tot R3,2 miljard.

• Bruto wins styg met 13% tot R1,2 miljard.

• Handelswins styg met 25% tot R428 miljoen.

• Bruto winsgrens styg van 36,1% tot 38%.

• Wesensverdienste per aandeel styg met 33% tot 192,6c.

• 'n Tussentydse dividend van 86c per aandeel word uitgekeer, 37% meer as die vorige jaar.



Aandeelprys

Adcock Ingram se ­aandeelprys het die ­afgelope 52 weke met byna 25,5% tot Dinsdag se sluiting van R69 gestyg.

Die ­resultate is voor die opening van die JSE uitgereik.

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer