Ackers hou by wenformule vir eindstryd
Ackers hou by wenformule vir eindstryd

Ackers hou by wenformule vir eindstryd

Rugby
Christo Buchner - Gee my julle alles vir 80 minute sodat ons – wat ook al gebeur – nie ná die tyd enige berou hoef te hê nie.

Dít is die pleidooi van Johan Ackermann, afrigter van die Leeus se rugbyspan, aan sy spelers voor môre se Superrugby-eindstryd op Ellispark in Johannesburg teen die Crusaders.

Ackermann het gister die vyfde agtereenvolgende keer dieselfde beginspan aangekondig.

Hy sê hy wil sien dat sy spelers beter begin as wat die geval die afgelope twee weke teen onderskeidelik die Haaie en die Hurricanes was toe die Leeus telkens met rustyd ’n groot agterstand gehad het.

“Ons vaste fasette moet ook goed wees, maar dan wil ek ook hê dat die spelers met vryheid speel en hulself op die veld uitleef.

“Dit gaan nodig wees om die klein dingetjies reg te doen om bo uit te kom,” sê Ackermann.

Volgens hom is die Crusaders ’n span wat jou te eniger tyd kan straf.

“Hulle het net ’n halwe kans nodig om drieë te druk en hul agttal is van die beste ter wêreld. Boonop het hulle genoeg van die X-faktor tussen hul driekwarte en jy moet ver soek om swakplekke in hul mondering te vind,” sê hy.

Indien die plaasvervanger-haker Akker van der Merwe speelkans kry, sal dit sy 50ste Super-verskyning wees.

Die Leeus se span: Andries Coetzee, Ruan Combrinck, Lionel Mapoe, Harold Vorster, Courtnall Skosan, Elton Jantjies, Ross Cronjé, Ruan Ackermann, Kwagga Smith, Jaco Kriel (k), Franco Mostert, Andries Ferreira, Ruan Dreyer, Malcolm Marx, Jacques van Rooyen. Reserwes: Akker van der Merwe, Corné Fourie, Johannes Jonker, Lourens Erasmus, Cyle Brink, Faf de Klerk, Rohan Janse van Rensburg, Sylvian Mahuza. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-09-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer