Ablusiegeriewe by skole opgradeer

Verskeie skole in die Otjozondjupastreek se infrastruktuur vir sanitasie word tans opgradeer.
Ester Kamati
Ester Kamati op Otjiwarongo – Die direkteur van onderwys in die Otjozondjupastreek, me. Josephine Mutenda, sê N$30 miljoen is geoormerk vir die opgradering van krane en badkamers by skole en koshuise in die streek.

Dit is in ’n poging om bestaande infrastruktuur te onderhou, maar ook netheid by skole en koshuise te verseker.

Volgens Mutenda sal die opgraderings vir alle ablusiegeriewe teen aanstaande maand voltooi wees en amptelik aan die onderskeie skoolgemeenskappe oorhandig word.

Volgens die hoofstreekbeampte, me. Agatha Mweti, is die opgraderings in pas met sanitasie- en higiëniese standaarde.

“Veral in die lig van Covid-19 is dit noodsaaklik dat higiëne op ’n hoër standaard gehandhaaf word en dat daar water en voldoende ablusiegeriewe is,” het sy gesê.

Skole wat by die opgraderingsprojek sal baat, sluit in die laerskole Auuns, Grashoek, Kalenga, Luiperdheuwel, Omatako en Tsumkwe, sowel as die Sekondêre Skool Tsumkwe en die Gekombineerde Skool K.J. Kapeua.

Die waarnemende hoof van K.J. Kapeua in die Omatako-kiesafdeling, mnr. Gerson Kasinee, sê die skool het 640 leerlinge. Volgens hom is die skool se toilette buite werking en moet leerlinge dikwels in die nabygeleë bosse hul nood verlig.

“Ons is baie bly oor die opgraderings. Dit is inderdaad ’n seën, want ons baklei al lank dat geriewe by die skool opgradeer moet word,” het hy gesê.

Volgens Kasinee se waarneming het die kontrakteurs tot op hede sowat 80% van die opgraderings by die skool voltooi, terwyl hulle halfpad met die koshuisgeriewe is.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer