AB InBev-voorwaardes ’n harde neut om te kraak
JJ van Wyk - Die inwerkingstelling en monitering van die voorwaardes wat die Suid-Afrikaanse Mededingingstribunaal gestel het vir die oorname van SABMiller deur die internasionale bierreus Anheuser-Busch InBev, kan ’n harde neut wees om te kraak.
En die voorwaardes self – waaronder ’n belegging van R1 miljard in landbou- en ondernemingsontwikkeling in die komende vyf jaar deur AB InBev in Suid-Afrika – is beslis ’n waterskeiding in die beleid om samesmeltings te beheer, meen Chris Charter, direkteur en nasionale praktykshoof: mededinging van die prokureursfirma Cliffe Dekker Hofmeyr.
Dit kan in sommige oorde geïnterpreteer word as ’n “nuwe samesmeltingsbeleid wat aan’t ontwikkel is waar ’n betekenisvolle bydrae tot die ontwikkelingsnoodsaak van die land die quid pro-quo is om toegang te kry tot groot plaaslike bates”, sê hy in e-pos in antwoord op vrae oor die voorwaardes en toepassing daarvan.
Die tribunaal het verlede week ’n string voorwaardes gestel vir die transaksie wat ’n internasionale bierreus skep wat sy naaste mededingers verdwerg. Van die tribunaal se ander voorwaardes sluit in dat AB InBev ná 2020 ’n nuwe bemagtigingsvennoot moet kry.
Volgens Charter is die voorwaardes wydlopend en sal “dit ’n uitdaging aan albei partye bied om nakoming te verseker – en aan die kommissie om dit te monitor”, meen hy.
Baie van die voorwaardes beskerm belanghebbendes, so daar sal ’n verdere las wees, naamlik die monitering van klagte sou die partye nie die voorwaardes nakom nie.
Charter het ook sy bedenkinge oor die toepassing en monitering van die beleggingsvoorwaardes.
“Om R1 miljard in vyf jaar doeltreffend uit te keer, lyk vir my alte veel na om ’n nie-regeringsorganisasie te bedryf en die onus rus op AB InBev om dit te bestuur.
“Daar is ook die betrokkenheid van die ‘inwerkingstellingsraad’ waarin (onder meer) die departement van landbou, bosbou en visserye en van handel en nywerheid elkeen ’n verteenwoordiger sal hê.
“Dit sal bykomende uitdagings bied om te voldoen aan die voorwaardes. Alles in ag genome, sal dit bykomende voltydse bronne verg,” sê Charter.
Oor die aard van die voorwaardes is hy nie seker of almal “werklik spesifiek met samesmelting verband hou nie”.
“Of ’n mens nou hierdie voorwaardes beskou as die toppunt of as die laagtepunt van owerheidsbeleid oor openbare belang en die regulering van reuse-samesmeltings, hulle verteenwoordig beslis ’n nuwe waterskeiding in die beleid om samesmeltings te beheer.
“Ek glo nie transaksies met ’n laer profiel sal op dieselfde manier benader word nie, maar diegene wat baie groot multinasionale transaksies wil beklink, moet hulle maar vir uitdagende tye staal,” sê Charter.
Sulke groot transaksies is weliswaar skaars, maar dit word volgens hom toenemend ’n kenmerk van sulke transaksies dat daar van multinasionale maatskappye verwag word om by te dra tot die ekonomiese bevordering van die land.
Aangesien dié beleggings dikwels gekoppel word aan samesmeltings waar ’n groot buitelandse belegger beheer wil oorneem van ’n plaaslike kampioen, kan ’n mens vergewe word sou jy onder die indruk verkeer dat ’n beleid aan’t ontwikkel is waar ’n betekenisvolle bydrae tot die ontwikkelingsnoodsaak van die land die quid pro-quo is om toegang te kry tot groot plaaslike bates.
Of dit ’n lofwaardige slag vir neokolonialisme of ’n lagwekkende bedreiging vir buitelandse belegging is, hang af van watter kant van die politieke draad ’n mens staan.
Sommige van die verkrygingsvoorwaardes kan dalk gesien word as aanpasbare teikens en indien AB InBev kan wys hy het in die gees van die ooreenkoms sy bes gedoen om dit na te kom, mag dit genoeg wees.
Daar word ook voorsiening gemaak vir verandering van die voorwaardes sou onvoorsiene omstandighede dit onmoontlik maak om na te kom. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie