Aardbewings: 'n Bewegende aardkors

Jacqueline Louw
Elvira Hattingh - Namibië ervaar min, indien enige, aardbewings omdat ons nie op die rand van ‘n tektoniese plaat geleë is nie en min seismiese aktiwiteit dus plaaslik voorkom.
Tog is verskeie ligte aardskuddings in die afgelope jare hier opgemerk.
Op 10 September het verskeie mense in Windhoek aangemeld dat hulle ook die aardbewing van sowat 3,7 op die Richterskaal noordwes van Upington gevoel het. Ligte aardskuddings in Windhoek en uitgesonderde dele van Namibië is die afgelope twee jaar, op 6 Augustus 2013 en 26 Augustus 2014, gevoel.
Die ergste aardbewing wat die afgelope 20 jaar in Namibië voorgekom het, was op 31 Julie 2009 net buite Khorixas en het op 5,1 gemeet. Op 24 Maart 2012 het ’n aardbewing van 4,8 in dieselfde gebied voorgekom.
Ligte aardskuddings kom egter baie gereeld voor – soveel dat dit onbenullig sou wees om elkeen aan te meld. Boonop is die meeste aardskuddings so lig dat mense dit nie eens opmerk nie.
Die Afrika Skeurvallei dra byvoorbeeld ook by tot ligte, maar gereelde aardskuddings in Namibië.
Aardskuddings wat hul oorsprong in die skeurvallei het, word byna daagliks plaaslik aangeteken. ’n Groot deel van Afrika is besig om langs die skeurvallei weg te skeur en die skeuring kan met die oog op ‘n kaart gevolg word – vanaf die Nylrivier ondertoe. Dit loop deur die groot mere Victoria, Malawi en Tanganjika. Daarlangs vind verskeie aardbewings plaas en kom vulkane ook voor.


Die vuurkring
Verskeie mense woon egter in gebiede wat geneig is tot aardbewings – veral diegene wat langs die sogenaamde vuurkring woon.
Die vuurkring is ‘n denkbeeldige streep wat wetenskaplikes volgens die aansluitings van tektoniese plate op die aardkors getrek het, waar tot 452 aktiewe vulkane voorkom en 90% van die aarde se aardbewings plaasvind.
Die aansluitings is as’t’ ware “swak gebiede” in die aardkors.
Die streep van plaat-aansluitings loop al langs die westelike kus van Noord- en Suid-Amerika en ook langs die ooste van Asië en Australië en vorm ‘n tipe kring. Vandaar ook die naam: Vuurkring.


Tektoniese aansluitings in die aardkors
Verskillende plaataansluitings word geïdentifiseer: Plate wat na mekaar toe beweeg, wat van mekaar af wegbeweeg en plate wat teen mekaar in verskillende rigtings verbyskuif. Dié bewegings veroorsaak aardbewings.
Die hiposentrum verwys na die punt waar die aardbewing onder die aardkors ontstaan het, terwyl die episentrum die punt bo die hiposentrum op die aardkors is.
Die naaste, groot tektoniese aansluiting aan Namibië is in die middel van die Atlantiese geleë – bykans halfpad tussen Amerika en Afrika.


Richterskaal
Aardbewings se omvang word volgens die Richterskaal gemeet – meestal tussen 0 en 10 (hoe nader dit aan 10 meet, hoe meer verwoestend is die skudding).
Tog word selde bewings groter as 8 gemeet.
‘n Aardbewing se grootte word volgens sy omvang, primêre en sekondêre golwe en tyd tussen golwe gemeet. Golwe word verder as primêre, oppervlak-, liefdes- of Rayleigh-golwe geïdentifiseer.
‘n Aardbewing onder 2,5 word meestal nie eens deur mense opgemerk nie, maar wel deur ‘n seismograaf. Aardbewings tussen 2,5 en 5,4 op die Rigterskaal word meestal deur mense waargeneem, maar is lig en veroorsaak min sakde, indien enige. Aardbewings tussen 5,5 en 6 kan ligte skade aan geboue veroorsaak en word as matig gereken.
Bo 6, word ‘n aardbewing as sterk beskou en kan dit groot skade in digbevolkte gebiede veroorsaak. ‘n Aardbewing van 7 word as massief gereken en veroorsaak ook groot skade. Bo 8 wis dit dikwels gemeenskappe in sy episentrum uit en is dit uiters verwoestend.



Natuur of mensgemaak?
Kenners het waargeneem dat aardbewings in plekke soos byvoorbeeld Oklahoma in Amerika toeneem.
Hulle vermoed dit mag deur mense-aktiwiteite veroorsaak word – soos wanneer ons in die aardkors werk om byvoorbeeld olie of natuurlike gas te ontgin, wat die aardkors meer onstabiel maak.
Namibië is egter redelik beskut teen aardbewings en selfs aardbewings wat deur mense veroorsaak word, behoort nie gou plaaslik voor te kom nie.
Bronne: siovizcenter.ucsd.edu, www.pbs.org, www.weatherunderground.com, Republikein.

Kommentaar

Republikein 2025-06-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer