Aanlyn uitstalling vir viervoetige vriende

Tanja Bause
Tanja Bause

Kuns- en diereliefhebbers het nog tot Vrydag tyd om by die eerste “Art with a Heart” aanlyn kunsuitstalling ten bate van die Have-a-Heart-organisasie in te loer.
Twaalf van die 43 werke is reeds verkoop en die organisasie het tot nou N$8 820 deur die verkope ingesamel.
Volgens die uitstalling se organiseerder, me. Lindie Prinsloo, was mense se reaksie en belangstelling uitstekend en het op 2 September toe die veiling begin het, 936 mense www.art-with-a-heart.com besoek.
Die grootste kunswerk,Blue van Heidi Louw, is deur Hollard Versekering gekoop.
“Ons is van plan om in die laaste week afslag op die werke te bied. Dit wat teen die einde van die maand nog nie verkoop is nie en deur die kunstenaars aan die organisasie geskenk is, sal dan op ’n veiling verkoop word,” het sy gesê.
Skilderye, foto’s, keramiek en pottebakkery deur agt Namibiese kunstenaars word aanlyn vertoon en verkoop. Winste is heeltemal ten bate van die Have-a-Heart Spay and Neuter-kliniek op Outjo. Die geld sal gebruik word om mediese toerusting vir die kliniek te koop. Dit sal ook gebruik word om troeteldiere van die informele nedersettings te steriliseer, te kastreer, te behandel en te ondersoek.
“Ons wil soveel troeteldiere as moont­lik opereer om die aantal ongewenste klein hondjies en katjies asook die rondloperdiere wat nie versorg word nie, te verminder,” het Prinsloo, wat die stigter van die Have-a-Heart-organisasie is, gesê.
Kunstenaars wie se werke te koop is, is Anita le Roux, Heidi Louw, Lindie Prinsloo, Sonia Bergh en Wilma de Bruin, Betsy van Rensburg se pottebakkery en keramiek en Lukas Amakali se foto’s. Nicky Marais se bydrae bestaan uit verskillende tradisionele voorwerpe, natuurlike formasies en stedelike strukture.
Van die kunstenaars het spesiaal werke vir die besondere uitstalling geskep.
“Ons hoop om die uitstalling volgende jaar weer aanlyn te hou, en dan sal ons honde en katte as tema hê,” het Prinsloo gesê.
Die Have-a-Heart-projek is in 2013 deur Prinsloo in Outjo begin ná sy talle rondloperhonde in die Etoshapoort-woonbuurt gesien het en wou help. Dit was nie lank nie, en in 2013 is altesame 442 diere in vyf dorpe, naamlik Outjo, Otjiwarongo, Kalkfeld, Windhoek en Rehoboth geopereer, ondersoek en versorg.
In 2014 is na 483 troeteldiere in Outjo, Otjiwarongo, Lüderitz, Windhoek en Gobabis omgesien. Verlede jaar is 943 diere geopereer en het die inisiatief na agt dorpe uitgebrei met Outjo, Otjiwarongo, Lüderitz, Aus, Windhoek, Swakopmund, Gobabis en Rundu wat deel van die projek was.
In die drie jaar wat die Have-a-Heart-projek aan die gang is, is altesame 1 868 troeteldiere uit verskeie informele nedersettings gesteriliseer en gekastreer. Die organisasie hoop om die aantal rondloperdiere noemenswaardig te verminder en uiteindelik te verseker dat geen rondloperdiere meer voorkom nie.
“Mense is geneig om te dink dat inwoners van informele nedersettings nie vir hul diere omgee nie, maar dit is nie só nie. Hulle het net nie die geld nie om die diere by ’n veearts te laat opereer nie. Met elke sterilisasieveldtog merk ons op hoe mense sit en wag terwyl hul troeteldiere geopereer word,” het Prinsloo gesê.
Volgens haar is die gratis dienste wat Namibiese veeartse gedurende die sterilisasieveldtogte lewer, van groot waarde. “Hulle help graag en gee hul tyd gratis. Sonder hulle sou ons nie sulke groot sukses geniet nie.
“Deur middel van ons veldtogte het ons verhoed dat sowat 24 000 honde en katjies gebore word. Daar is duisende troeteldiertjies wat wreed vrek bloot omdat hul eienaars nie die geld het om hul diere te laat steriliseer nie,” het Prinsloo gesê.
Volgens haar het net 28% van alle diere in Namibië toegang tot ’n veearts. “Ons is hier om die ander 72% te help.1396986481

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer