74 nuwe Covid-19-gevalle, totaal nou 1 917
74 nuwe Covid-19-gevalle, totaal nou 1 917

74 nuwe Covid-19-gevalle, totaal nou 1 917

Henriette Lamprecht
Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) dr. Kalumbi Shangula sê 74 nuwe gevalle is die afgelope 24 uur aangemeld wat die totaal vir die land op 1 917 te staan bring. Hiervan is 56 in Walvisbaai, drie in Swakopmund, een in Omaruru, vier in Windhoek, vier in Lüderitz, twee in Oshakati, twee in Rundu, een in Onandjokwe en een in Okahandja. Uit die 74 is 54 mans en 20 vroue. Die ouderdomme wissel van 15 tot 77 jaar.

Die geval in Omaruru is 'n 57-jarige man met geen reisgeskiedenis of kontak met 'n bevestigde geval nie. Hy het gekla van chroniese rugpyn en is as deel van 'n aktiewe soektog na gevalle getoets.

Die gevalle van Rosh Pinah in die Lüderitz-distrik is almal werknemers van Spar en kontakte van 'n bevestigde geval.

Die gevalle vir Windhoek is soos volg:
- 'n 37-jarige man wat met Covid-19-verwante simptome in 'n private hospitaal opgeneem is. Hy het geen reisgeskiedenis of kontak met 'n bevestigde geval nie.
- 'n 21-jarige vrou en lid van die Khomas-streeksraad met geen reisgeskiedenis of kontak met 'n bevestigde geval nie.
- 'n 21-jarige vrou wat onlangs van die Ohangwena-streek gereis het. Sy is volgens 'n versoek van haar familie in Windhoek in kwarantyn geplaas. Sy het geen simptome of enige kontak met 'n bevestigde geval gehad nie.
- 28-jarige man met geen reisgeskiedenis of kontak met 'n bevestigde geval nie.

Die gevalle in Oshakati is soos volg:
- 'n 47-jarige gesondheidswerker met Covid-19-verwante simptome wat net met 'n pakkie in aanraking gekom het wat deur 'n bevestigde geval hanteer is.
- 35-jarige man met geen reisgeskiedenis of kontak met 'n bevestigde geval nie.

Die gevalle in Rundu het van Walvisbaai gereis en was in kwarantyn. Een is 'n 15-jarige leerling en die ander 'n 36-jarige man.

Die geval op Onandjokwe is 'n 29-jarige gesondheidswerker wat tydens sy verlof na Windhoek en Grootfontein gereis het. Hy het met sy terugkeer Covid-19-verwante simptome ontwikkel en het geen kontak met 'n bevestigde geval gehad nie.

Die geval op Okahandja is 'n 33-jarige man van die Oropoko-militêre basis wat onlangs na Windhoek gereis het. Hy het simptome en was in kwarantyn.

Volgens Shangula het drie gevalle op Walvisbaai herstel en wel 292, 306 en 315.

Die aantal aktiewe gevalle staan tans op 1 805, 104 mense het ten volle herstel en 24 325 weefselmonsters is tot op hede getoets. Tans is 1 387 mense in kwarantyn in geriewe oraloor in die land.

Kommentaar

Republikein 2026-07-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer