70% van alle plase loop onder misdaad deur
Die algehele koste van landbouverwante misdaad was verlede jaar meer as R7,7 miljard.
Dawie Boonzaaier
Altesaam 70% van kommersiële boere het in 2017 misdaad ervaar, wys 'n studie van Unisa se Buro vir Marknavorsing onder 1 327 boere oor die omvang van misdaad op plase.
Dit teenoor 7,5% van alle Suid-Afrikaners wat sê hulle was in 2017-'18 'n slagoffer van misdaad, luidens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se opname oor misdaadslagoffers wat Donderdag bekend gemaak is.
Die Unisa-studie is in opdrag van Agri SA gedoen. Daarin word geraam die totale direkte koste van misdaad op plase (soos herstelwerk en verlies aan inkomste) was sowat R5,45 miljard vir die jaar en die vervangingskoste van gesteelde goedere het sowat R2,28 miljard beloop.
Dit beteken die algehele koste van landbouverwante misdaad was meer as R7,7 miljard.
Die misdade waaroor boere die meeste gekla het, is veediefstal, beskadiging aan infrastruktuur, diefstal en rooftogte.
Volgens SSA se landbousensus van 2002 was veediefstal se totale koste toe R483,6 miljoen en R204,8 miljoen se toerusting en gereedskap is gesteel. Die skade weens saakbeskadiging was R99,5 miljoen.
Die randwaarde van veediefstal in 2017, aldus Agri SA se verslag, is R1,13 miljard.
Brandstigting is in 2017 die tweede hoogste bydraer met 'n totale koste van R917 miljoen, terwyl die diefstal van toerusting en gereedskap met 314% gestyg het tot R848 miljoen.
Saakbeskadiging se totale koste is R687 miljoen, 590% meer as in 2002.
Altesaam 40% van kommersiële boere het veiligheidstoerusting geïnstalleer teen 'n geraamde koste van R1,9 miljard.
Kommerwekkende statistieke in die verslag is die lae hoeveelheid misdaad wat aangemeld is. Slegs 25% van kommersiële boere wat in 2017 misdaad ervaar het, het al die misdade by die polisie aangegee.
Daarenteen het 52% van kommersiële boere party van die misdade op hul plase aangemeld. Die hoofrede hoekom die misdade nie aangegee word nie is omdat 34,7% van die boere voel dit is 'n mors van tyd en nutteloos.
Altesaam 19,1% voel die polisie sou niks kon doen nie, terwyl 14,4% nie die misdaad wou aanmeld nie weens 'n vorige slegte ervaring met die polisie.
SSA se opname toon dieselfde tendense vir die algemene bevolking. Hul opname toon 'n toename in huisinbrake, diefstalle en aanrandings, terwyl die polisie se amptelike statistieke 'n daling wys.
'n Rede daarvoor kan wees dat die publiek minder misdaad by die polisie aangee, sê SSA.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie