5 193 ding om 120 visvangregte mee

Reusetoename in belangstelling

07 September 2018 | Ministeries
Catherine Sasman - Die ministerie van visserye en mariene hulpbronne het teen 31 Augustus 'n totaal van 5193 aansoeke om visvangregte ontvang, waarvan tussen 90 en 120 beskikbaar is.

Dit is 'n reusetoename in belangstelling teenoor vorige aansoeke waarvan daar net tussen 500 en 1 500 was.

Die minister, mnr. Bernard Esau, het Woensdag gesê die spertyd vir visvangregte sal nie verder uitgestel word nie. Teen Woensdag is die aansoeke in 'n kluis by die ministerie gehou en die koeverte is nog nie oopgemaak nie.

Oor sowat twee weke sal die name van vanjaar se aansoekers om visvangregte, opgedeel volgens spesies waarvoor aansoek gedoen is, in koerante gepubliseer word en ook op die ministerie se webtuiste beskikbaar wees.

Aansoekers wat getuigskrifte het wat uitgereik is deur amptenare wat die aansoeke ontvang het, sal hul aansoeke kan bevestig.

Esau het gesê 'n evalueringskomitee bestaande uit kundiges sal binnekort aangekondig word. Die evaluering sal volgens die gegewe kriteria van die mariene hulpbronnewet plaasvind.

“Die kontrolelys is duidelik en deursigtig,” het Esau gesê, en bygevoeg die proses sal baie streng wees.

"Die beleidsdoelwit is om betekenis te gee aan die regering se beleid van inklusiwiteit en veral die bemagtiging van voorheen benadeelde Namibiërs, terwyl verseker word dat ons Namibiese werksgeleenthede en beleggings in ons mariene vissery-subsektor beskerm," het hy gesê.

Die evalueringskomitee sal bestaan uit gekeurde professionele mense, het die minister gesê.

Suksesvolle aansoekers sal teen die einde van 2018 daarvan in kennis gestel word.

Esau het gesê omdat die visbedryf se bronne beperk is, kan visvangregte nie aan alle Namibiërs, en veral nie alle aansoekers, toegeken word nie. Dit sal die sektor ekonomies nie-volhoubaar maak, het hy gesê.

“'n Vry-vir-almal situasie sal tot 'n onvolhoubare geskarrel vir hierdie natuurlike hulpbron lei, wat tot die hulpbron se ineenstorting sal lei. Ek is toegewy aan die versekering van die langtermynvolhoubaarheid van ons visvoorraad, wat slegs op volhoubare vlakke geoes moet word, soos bepaal deur wetenskaplike studies. Dit is ter wille van die huidige én toekomstige geslag Namibiërs," het Esau gesê.

Soortgelyk

 

Brand breek uit by Spar op Keetmanshoop

7 ure gelede | Ongelukke

'n Brand woed tans by die Spar op Keetmanshoop. 'n Leser het enkele minute gelede dié foto vir Republikein gestuur. Meer inligting is nie tans...

Elfjarige byna ontvoer

2 dae gelede | Misdaad

Henriette Lamprecht – ‘n Elfjarige laerskoolmeisie is Woensdag helder oordag voor haar huis byna deur ‘n groep mense in ‘n motor gedwing en ontvoer. ‘n...

Tendertafel net vir buitelanders gedek

2 dae gelede | Infrastruktuur

Ronelle Rademeyer - Die voorwaardes waaraan kontrakteurs moet voldoen om in aanmerking te kom vir twee reuse-konstruksietenders van byna N$4 miljard, is van só ’n...

Storm los by Unam-eksamen

2 dae gelede | Onderwys

Denver Kisting - Die Universiteit van Namibië (Unam) het teen gistermiddag steeds skouers opgetrek oor ’n eksamen wat eergisteraand skeefgeloop het.Nagraadse regstudente verbonde aan die...

Kalender 21 September

2 dae gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Erfenisweek 2018 is goed op dreef by die Franko-Namibiese Kultuursentrum (FNCC) . Namibië se belangrikste erfenisinstellings het saamgespan om dié...

’n Mannekoor en wyn vir die pyn

2 dae gelede | Kuns en vermaak

Die Windhoeker Männerchor (WMC) en ‘n uitgesoekte groep musikante nooi die publiek na die Wynfees/Winzerfest uit. Dít vind op 6 Oktober by die SKW...

Vanjaar reeds 29 renosters in Namibië gestroop

2 dae gelede | Omgewing

Francoise SteynbergAltesaam 21 swart- en agt witrenosters is al vanjaar in Namibië vir hul horings afgemaai.Uit dié 21 swartrenosters is 13 in die Etosha Nasionale...

Gif in waterkrip dalk stropers se werk

2 dae gelede | Misdaad

Henriette Lamprecht Watermonsters van 'n krip in 'n munisipale kamp wes van Omaruru is vir ontleding na 'n private laboratorium gestuur om te bepaal...

Breek die mure af

2 dae gelede | Kuns en vermaak

Yolanda Nel – Indien die klank van kabaret, Evita of die Rocky Horror Picture Show jou aandag trek, moet jy môre geen planne maak nie.Shades...