2020 se tongval het ons almal uitgeboul
Ronelle Rademeyer – Op 31 Desember verlede jaar sit ek ná ’n Oujaar-staptog langs die strand by The Tug Restaurant op Swakopmund en probeer afstand kry van 2019.
Met elke tree wou ek daardie oggend ’n ent verder wegstap van die draaiballe wat in die voorafgaande maande op my afgepyl het.
Een daarvan was ’n kankerdiagnose. Op 25 September het ek met bewende hande die radioloog se verslag uit die groot, wit koevert met die uitslag van my CT-skanderings getrek.
“Cancer. . . metastasis. . .” Onwerklike woorde wat voor my oë swem.
’n Draaibal wat my in die maag tref en my wind poegaai slaan.
Ironies genoeg het ek in die voorafgaande maande dikwels na die dor landskap om my gekyk en gedink dit is soos om ’n geliefde te aanskou wat deur kanker afgetakel is.
Uitgeteer. Terminaal. ’n Landskap sonder lewe. 2019, die droogste jaar in menseheugenis.
Ek neem ’n foto van die jetty; ’n mooi een waar die son skalks deur die misbank oor die see loer en silwer strepe oor die water trek. Later die dag plaas ek dit met dié aanhaling uit T.S. Eliot se “Four Quartets” op Facebook: “For last year’s words belong to last year’s language/And next year’s words await another voice.”
Só sit ek ’n punt agter 2019.
2020 se tongval sal sans “kanker” en “droogte” wees.
Dieselfde dag lig Wuhan se munisipale gesondheidskommissie die Wêreldgesondheidsorganisasie oor gevalle van longontsteking in dié Chinese stad in.
Op 14 Januarie toe ek na afloop van ’n ure lange operasie in die hoësorgeenheid van ’n Kaapse hospitaal wakker word, kondig die wêreld se gesondheidswaghond aan daar is 41 bevestigde gevalle van die nuwe coronavirussiekte in hierdie stad waarvan die naam intussen ’n vloekwoord geword het.
Ek wis daar niks van nie. Al wat saak maak is liewe prof. Soeters se soet woorde bo die reëlmaat van die masjiengepiep langs my bed: Die operasie was ’n sukses.
Hier waar ek nou die rubriek sit en tik, kondig Sky News die nuutste Covid-19-telling aan: 3 566 993 bevestigde gevalle, 248 331 sterftes.
Langs my op die eetkamertafel lê die radioloog se nuutste CT-skanderings. Daar is geen teken van kanker nie. Nada. Niks.
2020 se tongval ís sans 2019 se skrikwoorde. Want die natuur is danksy reën ook geil aan die leef.
Maar die nuwe jaar het nuwe skrikwoorde gebring.
Niemand het op 31 Desember verlede jaar geweet ons sou binne maande nie 'n sin formuleer sonder die woorde coronavirus, Covid-19, pandemie, ventilator, inperking, handreiniger, masker of drank-, rook- en reisverbod daarin nie.
Wat my reis my geleer het, is hoe sterk ’n mens se oorlewingsdrang is.
Dis ’n oerdrif wat deur die Skepper in elke sel geënkodeer is.
Daarom sál die wêreld opstaan.
Ter wille van oorlewing sal ons die nuwe normaal omhels en ons lewensuitkyk herkalibreer.
Eendag, ver in die toekoms, sal ons terugkyk en sê: Dit het ons beter gemaak.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie