2017 se orkaan Maria het byna 3 000 lewens geu00ebis
2017 se orkaan Maria het byna 3 000 lewens geu00ebis

2017 se orkaan Maria het byna 3 000 lewens geëis

Puerto Rico sukkel steeds om sy infrastruktuur en kragtoevoer te herstel.
’n Nuwe amptelike verslag het bevestig dat die orkaan Maria in September verlede jaar byna 3 000 lewens geëis het.

Die amptelike sterftesyfer ná die verwoestende storm in Puerto Rico staan nou op 2 975, terwyl die vorige amptelike syfer 64 was.

Puerto Rico sukkel steeds om sy infrastruktuur en kragtoevoer te herstel en het die Amerikaanse kongres vir US$139 miljard gevra om herstelwerk te doen, berig BBC.

Volgens SkyNews het Ricardo Rosello, goewerneur van Puerto Rico, gesê hy gaan ’n kommissie aanstel wat die aanbevelings in ’n nuwe verslag oor die skade en lewensverlies moet implementeer en ’n register moet opstel van diegene wat die kwesbaarste tydens storms is.

Die amptelike sterftesyfer is vir die eerste keer sedert Desember aangepas ná nuwe navorsing van die George Washington-universiteit se Milken Institute School of Public Health gepubliseer is, berig The Guardian.

SKERP KRITIEK

Owerhede het byna ’n jaar lank onder skerp kritiek deurgeloop en joernaliste, aktiviste en akademici het onder meer gevra dat die regering die omvang van die verwoesting amptelik moet erken.

Die regering se vorige amptelike syfer het glo net verdrinkings en die sterftes wat veroorsaak is deur geboue wat ineengestort het, ingesluit.

Baie mense is egter ook dood omdat hulle nie toegang tot behoorlike mediese sorg gehad het nie. Herhaaldelike kragonderbrekings het glo daartoe gelei dat baie mense aan diabetes en sepsis gesterf het.

’n Studie van die Harvard-universiteit het vroeër vanjaar bevind die orkaan het waarskynlik meer as 4 600 lewens geëis.

Die navorsers het gesê sowat ’n derde van die sterftes ná die orkaan in September verlede jaar was weens ’n gebrek aan mediese sorg weens kragonderbrekings en beskadigde padverbindings.

Harvard se navorsers het van Januarie tot Maart meer as 3 000 huishoudings, wat lukraak gekies is, gekontak en inligting oor onder meer die verlies van infrastruktuur en oorsake van sterftes verkry.

Hulle het die resultate vergelyk met die amptelike sterftesyfer in die ooreenstemmende tydperk in 2016. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-06-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer