20 jaar gelede
20 jaar gelede

20 jaar gelede

Errol Hurter
Maandag 12 Augustus
• ’n Regter van die Windhoekse Hoërhof is daarvan beskuldig dat hy partydig vir een van twee beskuldigdes optree nadat hy glo telefonies versekering aan die moeder van een van die twee swendelaars gegee het dat hy sal toesien dat haar seun nie tronkstraf opgelê word nie.
• Die burgemeester van Hentiesbaai, mnr. Alf Liebenberg, staar regstappe in die gesig weens beweerde munisipale wanbetaling.

Dinsdag 13 Augustus
• Onsekerheid oor die toekoms van die beesbedryf in Namibië, het daartoe gelei dat beespryse die afgelope twee weke met tot 80 sent per kilogram lewende gewig gedaal het.
• Die lot van Namibiese plaaswerkers en die swak toestande waarin sommige van hulle werk en leef, moet dringend deur die betrokke owerhede onder hande geneem word.

Woensdag 14 Augustus
• Ongunstige ekonomiese toestande wat herhaaldelik aangevuur word deur stygings in brandstofpryse, het gister in Windhoek sy eerste groep slagoffers getref toe ’n plaaslike karweierdiens verplig was om sy werknemers in massa af te dank.
• Veeboere in die Ohangwena-streek word sedert begin vandeesmaand deur gewapende bendes uit Angola geterroriseer en hulle het al groot getalle beeste verloor.

Donderdag 15 Augustus
• Beweerde oortredings van die Wet op Plaaslike Owerhede en ’n omstrede weeldehuis ter waarde van N$350 000 vir die stadsklerk van Hentiesbaai, is die onderwerp van verskeie gelyktydige hoëvlak-ondersoeke wat sedert Vrydag afsonderlik deur die Ouditeur-generaal en die Namibiese Polisie van stapel gestuur is.
• ’n Statutêre fonds gaan kragtens ’n kabinetsbesluit op die been gebring word om voortaan alle studiebeurse in Namibië te behartig. Dit sal onder beheer van ’n Raad van Direkteure staan.

Vrydag 16 Augustus
• Swapo kom binne tien dae voor die grootste waarheidstoets tot nog toe oor sy verlede te staan nadat die party gister bekend gemaak het dat die eerste naamlyste van sy oorlogslagoffers en aangehoude spioene Sondag op Ongulumbashe beskikbaar sal wees.
• Die Namibiese regering, in vennootskap met die mynreus De Beers deur middel van hul gesamentlike diamantmaat­skappy, Namdeb, het onthul dat ’n diamantsny- en poleerfabriek van sowat N$20,3 miljoen op Okahandja opgerig gaan word.

Sondag 18 Augustus
• Verskeie nuwe ontwikkelinge sal binnekort op Gobabis plaasvind met die oog op die voltooiing van die Trans-Kalaharihoofweg wat Namibië met Botswana sal verbind en die padroete na Suid-Afrika heelwat sal verkort.
• Die polisie glo dat ’n voormalige verkenner van die ou SA weermag, mnr. Henk van Deventer, dalk meer lig sal kan werp op die spoorlose verdwyning van adv. Jan Malan van Windhoek en twee ander diamanthandelaars vroeër vanjaar in Angola.

Kommentaar

Republikein 2026-06-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer