10 vas vir wildmisdaad
10 vas vir wildmisdaad

10 vas vir wildmisdaad

Beslag op olifanttande, ietermagôvel gelê
Ellanie Smit
Ellanie Smit - Tien verdagtes is in hegtenis geneem in verband met wildmisdaad en vier nuwe sake is aanhangig gemaak.

Sewe van die verdagtes is in hegtenis geneem vir olifantstropery of -handel, terwyl ’n ander verdagte gearresteer is in verband met renosterstropery.

Beslag is op 11 onwettige diereprodukte tydens dié inhegtenisnemings gelê.

Dít is volgens inligting wat deur die intelligensie- en ondersoekeenheid binne die omgewingsministerie en die afdeling van beskermde hulpbronne in die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit verskaf is.

Olifanttande

Twee Namibiese mans is op 16 Julie in Windhoek in hegtenis geneem weens ses olifanttandstukke wat in hul besit gevind is. Beslag is ook op hul voertuig gelê. Mnre. Johannes Angula Hosea en Petrus Kondjeni is vir die oortreding van die wet op beheerde natuurprodukte en -handel aangekla.

Mnr. Sackeus Erastus is op 17 Julie in hegtenis geneem in verband met twee ouer sake. Die eerste is in Mei 2018 aanhangig gemaak op Wanaheda, waar Erastus aangekla is van die oortreding van die wapens- en ammunisiewet. Die tweede saak is in Februarie op Omaruru aanhangig gemaak. Erastus is aangekla omdat hy die natuurbewaringswet verontagsaam het, asook ’n renoster onwettig gejag het.

Nog ’n Namibiese man is op 17 Julie op Opuwo in hegtenis geneem nadat ’n olifanttand in sy besit gevind is. Mnr. Muzadomure Rutjindo is vir die oortreding van die wet op handel van beskermde wild en -produkte, asook die oortreding van die natuurbewaringswet aangekla.

Op dieselfde dag is vier Namibiërs op Outjo in hegtenis geneem na hulle met drie olifanttande betrap is. Twee jaggewere en ’n voertuig is ook tydens die inhegtenisneming gekonfiskeer.

Mnre. Ngongo Tjiharuka, Iprencia Araes, Wesley Howab and Kambititi Tjiharuka is vir die oortreding van die wet op beheerde natuurprodukte en handel aangekla.

Ietermagôvel

Tydens ’n afsonderlike voorval op Omaruru is twee Namibiese mans op 18 Julie in hegtenis geneem nadat ’n ietermagôvel in hulle besit gevind is. Mnre. Steven Ganseb en Lukas Tonateni is van die oortreding van die wet op beskermde wild en diereprodukte aangekla.

Drie mense is ook tydens wildmisdaadsake skuldig bevind wat verlede week op Rundu, Otavi en Nkurenkuru gefinaliseer is. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer