1 826 dae sonder alkohol
Denver Kisting – As ek nie vandag óf môre deur ’n onblusbare dors uitoorlê word nie, is dit Sondag 1 826 dae sedert my laaste alkoholiese drankie.
’n Halwe dekade van kúrkhoringdroog wees.
Vyf jaar van op die stormagtige golwe van die waterkar ry.
Wel, probéér ry. Probéér wees.
Dit blý ’n poging, omdat mens ondanks gister, verlede week, laas maand of die afgelope 365 dae se sukses, elke liewe dag op ’n blinknuwe bladsy begin.
Van voor af. Opnuut.
Elke godse dag moet mens jouself verbind tot nugter wees en bly.
Die afgelope amper agt maande was die moeilikste.
Omdat ek sedert Februarie weer voltyds my gewig agter die bloederige geboorte van ’n dagblad probeer gooi én ook al amper vyf jaar probeer om nie weer te begin rook nie, lol dit maar.
Lol, ja. Daar is géén halwe rede om kliphard te lol oor ’n baba wat binne ’n dag verwek, gedra en gebore moet word nie. Veels té veel bloed, geweldig baie trane en sweet – rou angssweet – en trauma is die énigste orde van die dag.
Laat my toe om eerlik wees – ek is oortuig ek het dit véél makliker as miljoene ander wat dié lewensvernietigende gewoonte van alkoholmisbruik probeer bestuur.
In die afgelope vyf jaar is daar amper deurgaans ’n bottel wyn in my huis. Vir die (dikwels) ongenooide óf (soms) genooide gas, sien.
Af en toe vergeet een van hulle ’n sigaret daar.
Omdat ek dikwels alleen tuis is, sou dit geen onbegonne taak wees om skelm te rook of te drink nie.
Maar daar was nog géén dag dat dit só erg geraak het dat ek nie anders kón as oorgee nie.
Ek weet nie presies wat dit is nie, en ek probeer ook nie té veel kosbare slaap daaroor verloor nie, maar ek was tot dusver nog net (kragwoord) gelukkig. En dáároor tel ek my seëninge. Elke liewe, sekulêre een van hulle.
Ek moes drank laat vaar voor ek begin besef het hoe kosbaar my gesondheid is.
Ek mis geen sekonde van babelas nie. Hoe ouer ek geword het en hoe meer (post-alkohol)water daar in die see geloop het, hoe meer het ek besef die lewe is té kort vir babelas.
Geen hoeveelheid dronk vreugde of dronkverdrietverligting of enige beskonke, vervullende vrytjie is ’n kloppende kop, ’n ontstigte maag en gewiste geheue werd nie. Nooit nie.
Ons weet álmal dat alkohol dié depressant is, maar – soos nuus oor die verval van die ekonomie – steur ons ons nie daaraan nie.
Voor ’n aflegging of ’n selfdoodpoging mos nie aan jou eie (kas)deur kom klop nie, raak dit jou mos nie.
Ondanks ’n aanslag op my lewe – aan my éie hand – het ek steeds langer as ’n jaar daarna aanhou suip. Verwoed, onverpoos en toegewyd. Om te sê dat dit ál slegter bly gaan het, is om vir Tafelberg molshoopstatus te gee.
Behalwe dat dit liggaamlik nog nooit só goed met my as volwassene gegaan het nie, is ek wat my geestesgesondheid betref op ’n plek waarvoor ek oneindig dankbaar is.
Party reise duur langer as ander. Met die klem op duur.
Die prys wat mens betaal, is egter nie net dollar en sent nie.
Dis ook selfrespek en grense.
Dit het talle gevolge gehad. En dit het stééds nadraaie.
Ek moes radikale skuiwe maak. Ek moes eerlik wees oor baie verhoudings en oor baie ruimtes wat nie my reis gedien het of goedgesind was nie.
Ek moes veral eerlik wees – en ek probeer dit daagliks doen – oor die vernietiging wat ék saai in die lewens en ruimtes waar ek my bevind.
Maar ek moes besef my énigste verantwoordelikheid is om mý lewe te probeer red. Sonder om té veel skade aan ander te berokken.
Dít is ál wat ek kan en móét doen.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie