Van perfekte hare tot sweepvleg
Anita Prinsloo het Anita Prinsloo Whips & Leathercraft begin en vandag maak sy nie net swepe nie, maar ook aan leerprodukte.
Tanja Bause – Theuns Prinsloo het een dag vir sy dogter, Anita (28), gesê hy wil graag ’n handgemaakte sweep hê.
Vyf jaar en 171 swepe later is Anita ’n entoesiastiese sweepvlegter wat nog steeds elke dag leer hoe sy haar handgemaakte swepe kan verbeter.
Anita het Anita Prinsloo Whips & Leathercraft begin en vandag maak sy nie net swepe nie, maar ook leerarmbande, maskers en kieries wat sy met leer oortrek, "knobel"-bekers en gordels.
Anita is in Windhoek gebore. Sy het tydens haar hoërskooljare tuisonderrig ontvang.
“Toe ek hoërskool toe gaan, het my ma my onderwyseres geword en ek het tuisonderrig ontvang.”
Ná sy haar skoolloopbaan voltooi het, het sy ’n diploma in haarkappery in Windhoek gedoen.
“Ek het van kleins af met mense se hare gespeel. My tannies was al moeg vir my omdat ek altyd hulle hare wou vleg. Die vleg van leer is dieselfde; dit is seker hoekom ek so baie daarvan hou om swepe te maak.”
Sy het vandag nog ’n paar kliënte wie se hare sy doen, maar sy konsentreer hoofsaaklik op haar leerbesigheid.
“Intussen werk ek ook nog in my pa se kantoor. Ek doen die boekhouding en gewone kantoorwerk soos om die telefoon en e-posse te beantwoord. Ek is nie juis mal oor kantoorwerk nie, maar ’n mens moet bedrywig bly en geld verdien,” het sy glimlaggend gesê.
Anita het, toe haar pa vir die sweep vra, Leather Connection in Windhoek toe gegaan en om hulp gaan aanklop.
“Ek het goeie raad en hulp by hulle gekry en ek is baie dankbaar. Ek het ook ’n paar boeke oor leerwerk gekoop en natuurlik op Google en YouTube gaan kyk. Daar is niks wat jy nie op YouTube kan leer nie.”
Haar droom vir die toekoms is om haar besigheid uit te brei sodat sy klasse in die maak van swepe kan aanbied.
“Dit is ’n kuns wat besig is om uit te sterf. Tog is dit deel van ons geskiedenis as jy aan die Voortrekkers dink wat swepe gebruik het en al die boere wat dit vandag nog gebruik. Ek voel dit is ’n kuns wat bewaar moet word.”
Sy maak die gewone ossweep (bullwhip) en is tans besig om haarself te leer om die slangsweep (snakewhip) te maak.
“Die slangsweep het nie ’n stok binne in soos die ossweep nie. Hy het ysterballe in wat hom soos ’n ratel laat klink as jy kom klap. Dit is ’n baie mooi geluid,” het sy gesê.
Anita maak nie net swepe van verskillende lengtes nie, maar hulle is ook in verskillende patrone gevleg en met verskillende aantal repies.
Daar is die sweep van 1 m wat gewild is onder vroue en kinders.
“Baie vroue sit die sweep in hul handsakke vir beskerming. Die sweep rol lekker klein op en is maklik hanteerbaar.”
Dan kry mens swepe van 2 m en 3 m wat soos die 1 m lange sweep met agt repies gevleg is. Die sweep van 3,5 m word met 12 repies gevleg en is ook Anita se gunstelinglengte sweep om te slaan en te maak. Al die swepe kom met ’n lewenslange waarborg. Sy maak ook ’n sweep van 4 m lank met vier repies vir plaaswerkers wat nie maklik kan breek nie en wat maklik hanteerbaar is.
Van die vlegpatrone sluit die diamant, skaakbord of gewone ossweep in.
Dit vat tussen een en twee maande om ’n sweep van 3,5 m te maak. “Dit is soos ’n kind wat jy koester en grootmaak; dit vat tyd,” het sy gesê.
Om ’n sweep behoorlik te kan klap moet ’n mens die spoedgrens kan breek wat vir Anita en haar 3,5 m lange sweep glad nie ’n probleem is nie.
“Ek het ook al vir my ma ’n leerhandsak gemaak. Maar dit is baie werk om die steke met die hand in die leer te sit. Ek het ’n paar weke terug eers ’n naaldwerkmasjien gekry wat op leer kan stik. Ek sal dit dalk weer in die toekoms probeer, maar my hart lê by swepe.”
“Ek wil mense aanmoedig om lief te word vir leer en in die toekoms wil ek werk skep met leerwerk.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie