SA trokdrywer vol lof vir Namibiërs

Tanja Bause
Tanja Bause



'n Vragmotorbestuurder wie se vragmotor Donderdagmiddag sowat sewe kilometer buite Windhoek onklaar geraak het, het sy waardering en lof vir ­Namibiërs uitgespreek.

Mnr. Miko Mupasu was vanaf Windhoek na Pretoria in Suid-Afrika onderweg toe die aansitter van sy vragmotor uitgebrand het.

“Ek het my werkgewer in Suid-Afrika laat weet en gedink dit is soos gewoonlik wanneer my vragmotor onklaar raak nie 'n groot probleem nie. Maar dié keer was dit anders en in die hele Windhoek was daar nie 'n gepaste aansitter nie en een moes uit Suid-Afrika gestuur word.”

Volgens hom is dit die eerste keer in die vyf jaar wat hy vragmotors bestuur dat hy so lank langs die pad gesit het. Voorheen was die langste twee dae.

“Mense het net gestop en met my kom gesels en gevra of ek hulp benodig. Ek het nooit vir kos gevra nie, maar hulle het nogtans met kos, water, tee en koffie kom stop en vir my gegee.

“Aan die begin het ek die kos gespaar, want ek het nie geweet hoe lank ek gestrand sou wees of wanneer daar weer kos sal kom nie. Ek het egter gou agtergekom mense stop elke dag en dat die kos nie sou opraak nie en daarvoor is ek baie dankbaar.”

Mupasu het aan medevragmotorbestuurders vertel hoe Namibiërs hom met kos versorg, maar niemand glo hom juis nie.

“Al wat ek weet, is dat as my vrag­motor in Suid-Afrika gebreek het, was ek beroof, aangeval of dalk vermoor en beslis nie met kos voorsien nie. Ek het vir almal vertel ek wil in Namibië kom bly. Ek wil daar bly waar die mense liefde in hul hart het en omgee.”

Volgens hom het die aansitter ­uiteindelik gister uit Suid-Afrika aangekom en was 'n werktuigkundige op pad om dit te installeer.

“Hopelik is ek op die laatste môre op pad huis toe, na my vrou toe. Sy was baie bekommerd aan die begin, maar toe sy hoor ek het kos en ek is nie in gevaar nie, het sy gesê ek moet ontspan en alles sal goedgaan.”

Volgens inligting was Mupasu ná middagete gister op pad Suid-Afrika toe.

Mupasu ry dieselfde roete vanaf Pretoria na Windhoek vir die afgelope twee jaar, elke tweede week.

Me. Abi Smit, 'n inwoner van Finkenstein buite Windhoek, het nadat sy talle kere verby die vragmotor gery het en daaroor gewonder het, stilgehou nadat sy 'n man in die kajuit sien sit het.

“Ek het nie voorheen besef daar was iemand in die kajuit nie. Ons het gesels en ek het dieselfde aand nog vir hom kos gebring. Ek het op ons buurt se WhatsApp-groep daarvan gesê en talle ander mense het toe ook vir hom kos gebring.

“Ek het ook vir hom lugtyd gegee sodat hy met sy mense in kontak kan bly. Ek het dit maar net weens my Namibiese hart gedoen. Dit is iets wat ons doen.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer