Dans om sorge te vergeet

Tanja Bause
Tanja Bause



’n TikTok-video wat ook op WhatsApp versprei is, het die afgelope week talle mense aan die lag gehad. Die video met die byskrif “Iewers in die Namibwoestyn” wys vier persone in volle beskermende kleredrag (PPE) wat dans. Hulle en die vrou wat die video opneem, het ooglopend baie pret.

Volgens cotadrake10 wat die video op TikTok geplaas het, is dit buite die Covid-19-isolasiefasiliteit op Hentiesbaai geneem.

“Ons het die fasiliteit skoongemaak en gereed gekry vir pasiënte. Nadat ons klaar gewerk het, het ons op die ingewing van die oomblik begin dans en die video gemaak. Dit was grootliks ons manier daai dag om so bietjie van die stres en druk ontslae te raak en ons sorge te vergeet. Net vir ’n oomblik te vergeet, te lag en bietjie positief te wees,” het hy gesê.

Die vier is gesondheidswerkers wat versorging en advies aan pasiënte oor gesondheidsverwante kwessies gee.

“Wees positief in hierdie moeilike tyd van die pandemie en gehoorsaam die regulasies. Vermy onnodige byeenkomste, hou jou handreiniger in jou sak en gebruik dit en dra deurentyd jou masker en ons sal hierdeur kom.”

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer