Buitepos: Swanger vrou glo weggewys
Buitepos: Swanger vrou glo weggewys

Buitepos: Swanger vrou glo weggewys

Nóg ’n leser het sy ontevredenheid oor beweerde omkopery en onmenslike behandeling by die grenspos tussen Botswana en Namibië uitgespreek.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw – “Doeanebeamptes het geweier om my hoogswanger vrou te help, wat in pyn was ná ’n uur se staan in die hitte.”

Só het mnr. Bradley Langenhoven, ’n voormalige lid van die Welwitschia-rugbyspan, die afgelope Vrydag aan Republikein gesê.

Dít nadat hy en sy vrou, Christel, en hul dogtertjie ’n baie onaangename ervaring by Buitepos, die grenspos tussen Botswana en Namibië, op 30 Desember gehad het.

Langhoven beweer ook paspoorte, met geld in, het voor sy oë van hande verwissel.

Volgens hom was daar reeds ’n klomp mense by die grenspos toe hy net voor 15:00 met sy vrou en dogtertjie daar opgedaag het.

Langenhoven vertel hy het sy vrou aangepor om die doeanebeamptes te versoek om voorkeur aan hul gesin te gee omdat sy 31 weke swanger was.

’n Beampte het toe uitgekom en vir die wagtende toeriste gevra wie almal swanger is, waarop almal hul hande opgesteek het.

Die beampte het hulle toe meegedeel dat dit nie hul beleid is om voorkeur aan swanger vroue te gee nie.

Langenhoven het gesê die beamptes was onbehulpsaam en onbeskof.

“Dit is tog algemene beleid om ou mense, swanger vroue en siekes eerste te help,” het hy gesê.

“Ons het sowat 40 minute tot ’n uur daar in die hitte gestaan en my vrou het pyne begin kry. Almal om ons het gevra hoekom ons nie na die toonbank gaan en hulp kry nie,” het hy gesê.

Hy sê ook daar was mense wat ná hulle by die grenspos aangekom het, maar voor hulle weer daar weg is.

“In ’n stadium was daar groot chaos - mense wat agter ons was, het vorentoe gehardloop en dan verdwyn. Hulle het nie teruggekom om weer in die ry in te val nie,” het hy gesê.

Hy het ook vertel van Asiërs wat kontant en hul paspoorte in die lug gehou het, wat voor ander deur die beamptes gehelp is.

Volgens Langenhoven het die beampte wat die hek beman het ’n paar paspoorte, met geld in, in sy hand vasgehou.

“Ek het nog nooit so ’n ervaring by ’n doeanepos gehad nie,” het hy gesê.

“Toe ek by die hek kom, het die man daar gestaan met die paspoorte en geld. Ek het hom gevra om ’n doeanebeampte te roep en hy het vir my gesê hy kan my nie help nie.”

Langenhoven het hom toe oor die paspoorte in sy hand uitgevra, waarop die man net gelag het.

Hy bevestig wat me. Hanlie Van Zyl aan Republikein vertel het oor die hekbeampte wat vir die ry wagtende toeriste gesê het: “Slaan julle mekaar maar, ek sal die hek oopmaak as julle dit uitgesorteer het.”

Langenhoven het hom tot ’n beampte van die Paaieowerheid gewend, asook tot ’n polisieman, en is weer eens meegedeel dat hulle nie kon help nie.

Die gesin se paspoorte is uiteindelik deur ’n vroulike immigrasiebeampte gestempel wat toeriste na Botswana deurlaat.

“Ek verstaan ’n nuwe stelsel is geïmplementeer, maar doeane is die gesig van die land. Hoe jy mense daar gaan hanteer, is hoe hulle Namibië gaan ervaar. Nie in Suid-Afrika of in Botswana het ek al so ’n ervaring gehad nie,” was Langenhoven se opinie.

Republikein het Buitepos se beamptes vergeefs om kommentaar genader.

Teen druktyd kon Republikein nie daarin slaag om met mnr. Patrick Nandago, permanente sekretaris van die ministerie van binnelandse sake en immigrasie, óf me. Salome Kambala, die ministerie se skakelbeampte, in verbinding te tree nie.

Kommentaar

Republikein 2026-04-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer