FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Vrae oor ‘polisiewagte’ by Nust

Kontrak van drie jaar
Vrae word gevra oor polisiebeamptes wat na bewering gebruik is om die kontrak van N$14 miljoen te verseker.
Kenya Kambowe

’n Storm broei oor ’n sekuriteitstender van N$40 miljoen by die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust). 

Dit kom ná bewerings dat die maatskappy wat die bod gewen het, glo polisiebeamptes gebruik het om die reusekontrak te bekom.

Dokumente wat Network Media Hub (NMH) onder oë gehad het, wys dat Novo Security Services aan wie die kontrak van drie jaar van 2026 tot 2028 toegeken is, moontlik CV’s van aktiewe lede van die Namibiese polisie (Nampol) ingedien het, terwyl hulle glo voorgegee het dat hulle private werknemers was.

Die bewerings het in die hoërhof gaan draai waar ’n mededingende bieër, PIS Security Services CC, ’n hersieningsaansoek ingedien het om die toekenning tersyde te laat stel.

PIS beweer dat die tenderproses deur wanvoorstelling en ’n gebrek aan deursigtigheid ontsier is. Die kern van die dispuut is ’n lys van agt individue wie se professionele identiteite nou onder skoot is.

Volgens ’n brief wat deur Appolos Shimakeleni Prokureurs aan die inspekteur-generaal van die polisie, luitenant-generaal Joseph Shikongo, gestuur is, het die CV’s wat deel was van die Novo-tender die betrokke individue as private sekuriteitswagte uitgebeeld. 

PIS beweer dat rekords van die Maatskaplike Voorsorgfonds (SSC) tydens ’n ondersoek egter ’n ander storie vertel.

Volgens dié rekords is dieselfde individue glo as werknemers van die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit geregistreer. 

PIS se regsverteenwoordigers het ook gewys op die insluiting van sertifikate van die Israel Patrick Iyambo Polisiekollege in die tenderdokumente as bewys van ’n vreemde oorvleueling tussen die private maatskappy en die nasionale polisiemag.

Die gebruik van aktiewe polisiebeamptes in private sekuriteit sou gevolglik ’n direkte oortreding van Artikel 27 van die Polisiewet No. 19 van 1990 wees.

“Geen lid mag enige besoldigde werk buite sy of haar diens in die mag verrig of hom- of haarself daaraan verbind om te verrig nie; en geen lid mag bykomende vergoeding eis as ’n reg ten opsigte van enige amptelike plig of werk wat hy of sy deur enige bevoegde owerheid vereis word om te verrig nie,” aldus die wet.

Die wet bepaal verder dat enige persoon wat versuim om aan hierdie vereistes te voldoen, skuldig is aan ’n oortreding en, by skuldigbevinding, aanspreeklik gehou sal word vir ’n boete of gevangenisstraf. 

By navraag het die besturende direkteur van Novo Security, Gideon Petrus, enige oortreding ontken. Hy het volgehou sy maatskappy is “skoon” en het geen persoon in diens wat tans ook in die polisie is nie.

“Met ons werwing het ons nie ’n voormalige polisiebeampte of ’n aktiewe een in diens nie. Die bewerings is nie waar nie,” het Petrus gesê. 

Ten spyte hiervan is daar steeds vrae oor hoe ’n private sekuriteitsmaatskappy na bewering aktiewe wetstoepassingsbeamptes as hul eie personeel kan voordoen om ’n openbare kontrak van N$40 miljoen te bekom. 

Vrae word ook gevra oor die dawerende stilte aan die kant van Nampol. PIS se regspan het op 26 Februarie aan Shikongo geskryf en duidelikheid geëis oor die status van indiensneming van die agt individue. 

Die prokureurs het ’n sperdatum van 4 Maart vir ’n reaksie gestel. Die polisie moet egter nog bevestig of ontken of hul beamptes vir Novo werk en of hul identiteite sonder hul medewete gebruik is.

Die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN), wat die Nust-tender (NCS/ONB/CPBN-11/2024) hanteer het, het voorheen besware teen die toekenning van die hand gewys. 

Die nuwe bewyse oor die beweerde “polisiewagte” het egter ’n dimensie van potensiële bedrog bygevoeg wat nou deur die hoërhof ontrafel moet word. Dit is nie die eerste keer dat die kontrak kritiek uitlok nie.

Vroeër is berig dat Novo na bewering mededingers wat ook aan die tender deelgeneem het, genader het om te help om die kontrak uit te voer. Dit was glo ten spyte van die feit dat Novo aan die hersieningspaneel gesê het dat dit oor die nodige kapasiteit beskik om die kontrak alleen te kan behartig. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer