Regering gaan Peugeot-aanleg vir N$1 koop
Die regering het die opsie om die Peugeot Opel Assembly Namibia (POAN)-monteeraanleg op Walvisbaai vir ’n nominale N$1 te bekom.
Dit nadat die motorvervaardiger Stellantis besluit het om sy bedrywighede daar te staak.
’n Nominale waarde is ’n simboliese bedrag – die kleinste moontlike syfer om regs- of formele redes – eerder as die bate se werklike markwaarde.
In hierdie geval maak dit die formele oordrag van die aanleg, toerusting en aandele moontlik, al sê amptenare dat die toerusting alleen meer as N$50 miljoen werd is.
Dié stap volg op ’n hoërhofsaak wat tersyde gestel is, waarin Stellantis N$79,9 miljoen wou verhaal wat hy na bewering in Namibië belê het.
Die bedrag het bestaan uit N$17 miljoen in aanvanklike aandelekapitaal, N$14 miljoen in navorsing- en ontwikkelingskoste en N$48,9 miljoen in onbetaalde fakture.
’n Senior staatsamptenaar het aan Republikein gesê die hof het die eis van die hand gewys aangesien Stellantis nie die korrekte prosedures gevolg het om beleggings te verhaal nie.
“Die hof het hul saak teen die regering van die hand gewys nadat ons bewys het dat hul bewerings nie waar was nie en dat hulle nie die regte prosedures gevolg het wat in die ooreenkoms ten opsigte van geskille en arbitrasie uiteengesit is nie,” het die amptenaar gesê.
Stellantis het die saak daarna teruggetrek. Albei partye het ’n ooreenkoms gefinaliseer waarvolgens die maatskappy sy aandele en toerusting vir die nominale bedrag van N$1 aan die regering sal oorhandig.
“Ons wag slegs op goedkeuring van die tesourie om die aandele en toerusting te aanvaar. Ons kan dan op vriendskaplike voet skei,” het die amptenaar gesê en bygevoeg: “Die toerusting is meer as N$50 miljoen werd.”
Die agentskap vir nywerheidsontwikkeling in Namibië (Nida) kan dan na goeddunke besluit hoe om die aanleg en masjinerie te gebruik.
‘NIE OP GELYKE VOET’
Stellantis (voorheen PSA) het gesê hy het die regering meegedeel dat hy nie op gelyke voet met ander voertuigmonteerders in die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sacu) kan meeding nie.
Die maatskappy het nie vrystellings van normale invoerregte en belasting op voertuiguitvoere van Namibië na ander Sacu- en Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC)-lande ontvang nie.
Sonder ’n aansporingskema vir die verligting van invoertariewe sou die POAN-aanleg nie met voertuie van ander vervaardigers kon meeding nie, het die maatskappy gesê.
Die maatskappy het bygevoeg dat hy, sonder sodanige verkope, nie vir gedeeltelik gemonteerde voertuigonderdele of normale bedryfskoste sou kon betaal nie. Daar is ook beweer dat die Namibiese regering versuim het om die nodige vrystellings vir uitvoere na Suid-Afrika en ander Sacu- en SADC-lede te verkry.
EISE VAN MILJOENE VERSKULDIG
Die Franse motorvervaardiger het gesê N$79,9 miljoen is aan hom verskuldig weens sy onverhaalde belegging.
Teen Junie 2024 het die regering slegs 30 van die 150 voertuie wat by die aanleg gemonteer is, aangekoop.
Dit ten spyte van ’n kabinetsopdrag van 2019 wat staatsentiteite verplig het om Peugeot- en Opel-modelle wat op Walvisbaai vervaardig word, aan te koop.
Die 150 voertuie wat oor bykans vyf jaar vervaardig is, het ver te kort geskiet aan die oorspronklike teiken van 5 000 eenhede per jaar teen 2020.
Die eerste modelle was die Opel Grandland X en Peugeot 3008, met ander wat beplan is.
Stellantis het in 2023 planne aangekondig om ’n nuwe aanleg in Gqeberha, Suid-Afrika, te bou – sy eerste in die land – om aanvanklik die Peugeot Landtrek-bakkie te vervaardig, wat die bedrywighede in Namibië effektief sou beëindig, het Reuters destyds berig.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie