Namibië steeds deur armoede geteister
Eerste minister Elijah Ngurare het 'n beroep gedoen op eenheid, die regverdige verspreiding van hulpbronne en versnelde ontwikkeling. Hy het Saterdag op Oshakati tydens die viering van Namibië se 36 jaar van onafhanklikheid egter gemaan armoede en ongelykheid bly ten spyte van noemenswaardige vordering meer as drie dekades later die land se grootste uitdagings.
Ngurare het erken hoewel onafhanklikheid vryheid en soewereiniteit gebring het, baie Namibiërs steeds armoede, werkloosheid en beperkte toegang tot basiese dienste in die gesig staar.
"Ons is te min om arm te wees," het hy gesê en 'n oproep gedoen vir doelbewuste maatskaplike en ekonomiese transformasie om die land se onafhanklikheid te beskerm.
Hy het burgers aangespoor om eenheid te handhaaf ten spyte van politieke verskille en gesê Onafhanklikheidsdag behoort aan alle Namibiërs.
Ngurare het na ontwikkeling in die Oshanstreek verwys met beleggings in landelike elektrifisering, waterinfrastruktuur, gesondheidsorg en onderwys. Volgens hom het die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) projekte ter waarde van byna N$978,7 miljoen in die streek gefinansier, terwyl landbousteun N$8,7 miljoen vir gemeenskaplike boere oorskry het.
Hoewel uitdagings soos tekort aan behuising en watervoorsiening vir landbou in die streek voortduur, sê Ngurare vooruitgang is gemaak met infrastruktuur soos klaskamers, paaie en waterstelsels wat inwoners se lewensomstandighede verbeter het. Die regering beplan ook om besproeiing uit die Etaka-kanaal uit te brei om boerdery in suidelike Oshana te bevorder.
Die eerste minister het jong mense aangemoedig om voordeel te trek uit geleenthede soos gesubsidieerde tersiêre onderwys en die Nasionale Jeugontwikkelingsfonds (NYDF) wat sekuriteitsvrye lenings bied om entrepreneurskap te ondersteun.
Die fonds wat 'n aanvanklike toekenning van N$257 miljoen ontvang het, sal na verwagting jaarliks oor die volgende vyf jaar tot N$500 miljoen groei, met die oog op sektore soos landbou, landbouverwerking en volhoubare projekte.
Ngurare het jong mense aangespoor om in groter getalle aansoek te doen en het gemaan teen die onderbenutting van beskikbare fondse.
Oshana se goewerneur Hofni Iipinge het Namibiërs op sy beurt versoek om eenheid, besinning en voortgesette nasiebou te omarm. Iipinge het gesê die onafhanklikheidsvieringe moet dien as 'n oomblik om te besin oor Namibië se reis die afgelope 36 jaar.
“Vandag is nie bloot 'n viering nie – dit is 'n oomblik van diep besinning,” het hy gesê en hulde gebring aan die opofferings van die helde en heldinne van die bevrydingstryd wat Namibië se vryheid verseker het.
Iipinge het gesê Oshana was bevoorreg om die geleentheid in die streek aan te bied in ooreenstemming met 'n opdrag van president Netumbo Nandi-Ndaitwah om vieringe nader aan gemeenskappe bring.
Hy het beklemtoon onafhanklikheid moet gesien word as ‘n voortgesette proses wat kollektiewe pogings van alle burgers vereis om ontwikkeling, ekonomiese groei en sosiale vooruitgang te bevorder.
“Onafhanklikheid is nie 'n gebeurtenis van die verlede nie, maar 'n voortdurende reis,” het Iipinge gesê. - [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie