Kubermisdaad se dae is getel
Die regering maak planne om Namibiërs teen internetgebaseerde misdaad te beskerm.
Só het die ministerie van inligting- en kommunikasietegnologie (MICT) se uitvoerende direkteur, Linda Nakale, Maandag tydens ’n werkswinkel met belanghebbendes gesê terwyl hulle die wetsontwerp op kubermisdaad onder die loep geneem het.
Namate meer mense in Namibië die internet gebruik om inkopies te doen, bankdienste te gebruik en met ander te skakel, is misdadigers ook toenemend aanlyn, het Nakale gewaarsku. Sy sê daar is onlangs ’n toename in swendelary en vals beleggingskemas opgemerk, asook truuks wat gebruik word om wagwoorde te steel.
Hierdie misdadigers teiken almal – van bejaardes en die jeug tot groot ondernemings – en kan veroorsaak dat mense hul hardverdiende geld verloor.
Nakale het verduidelik dat kubermisdadigers in georganiseerde groepe of sindikate werk en het bygevoeg dat hulle mense se gewoontes en roetines bestudeer voordat hulle op ’n slagoffer toeslaan.
Sy het verder gesê Namibië het streng wette nodig om hierdie misdadigers oor grense heen vas te trek en te straf, omdat hierdie misdaad van enige plek in die wêreld gepleeg kan word.
“Deesdae is daar ’n toename in swendelary, valse beleggingskemas, uitvissingpogings en ongemagtigde banktransaksies. Wat kommerwekkend is, is dat misdadigers bejaardes, die jeug en besighede teiken,” het sy gesê.
“Hierdie misdaad raak individue, gesinne, besighede en instellings en het verwoestende sielkundige en ekonomiese gevolge.”
“Wat belangrik is om uit te lig, is net soos fisiese misdadigers, werk kubermisdadigers in sindikate en hou hul teikens se profiele dop. Hulle bestudeer hul gewoontes en roetines en skep strategieë om hulle aan te val,” maan Nakale.
“Wees daarom bedag oor wat jy plaas en watter inligting jy met ander deel. Moenie jou persoonlike inligting soos PIN-nommers aan vreemdelinge gee nie. Sulke inligting kan teen jou gebruik word.
“Die bekamping van kubermisdaad is ’n gesamentlike verantwoordelikheid. Dit vereis versterkte toegangsbeheer, beleggings in infrastruktuur, bewusmaking, kapasiteitsbou en wetgewende raamwerke.”
Die wetsontwerp op kubermisdaad het drie hoofdoelwitte om die digitale ekonomie veilig te hou, naamlik om stelsels te beskerm – dit beteken dit sal reëls skep om rekenaarnetwerke en programme teen kuberaanvalle te beveilig.
Dit beoog ook om ’n raamwerk daar te stel waarvolgens misdadigers gestraf kan word, aangesien hierdie taak vir die polisie en howe makliker sal wees wanneer mense wat aanlyn misdade pleeg ondersoek, vervolg en gestraf moet word.
Die wetsontwerp beoog ook om infrastruktuur te bewaak, aangesien dit die land se belangrikste inligtingstelsels sal beskerm, soos dié wat vir bankwese en regeringsdienste gebruik word.
Nakale het beklemtoon dat tegnologie alleen nie misdaad kan keer nie en bygevoeg dat mense ook bewus moet wees van die gevare.
Sy het gesê die regering werk tans saam met vennote soos SALT Essential IT en Lifeline/Childline om gratis opleiding aan die publiek te bied.
Hierdie sessies lei mense op oor hoe om swendelary uit te ken en hoe om hul persoonlike inligting, soos PIN-nommers van banke, privaat te hou.
Verder het sy gesê Namibië werk saam met internasionale groepe soos die Afrika-Unie (AU) en Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) om seker te maak sy wette stem ooreen met wêreldstandaarde.
“Dit verseker dat Namibië met ander lande kan saamwerk om misdadigers wat oor grense werk, vas te trek,” het Nakale gesê.
Die werkswinkel het leiers en kundiges uit die die streke van Kunene, Ohangwena, Omusati en Oshikoto ingesluit.
Hul terugvoer sal gebruik word om die wetsontwerp te verbeter voordat dit ’n finale wet word.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie