Hodago betaal glo nie personeel

Hou nie by beloftes
’n Maatskappy in medebesit van Swapo het sedert November gefrustreerde werknemers se lewens in ’n nagmerrie verander.
Kenya Kambowe

Werknemers van Hodago Fishing (Pty) Ltd, ’n maatskappy waarin Swapo se Gendev Fishing Resources aansienlike aandele het, het sedert November verlede jaar geen salarisse ontvang nie.

In ’n interne memorandum wat deur Network Media Hub (NMH) gesien is, het Hodago erken dat hy nie sy bemanning en personeel kan betaal nie, ten spyte van maande se leë beloftes.

Vir baie werknemers was die laaste paar maande ’n nagmerrie.

In die interne memorandum, gedateer 22 Januarie 2026, het die bedryfsbestuurder, Hilda Truter, personeel se frustrasies oor vertraagde betalings erken. Sy het bevestig dat bestuur in intensiewe gesprekke met beleggers was om geld te verseker.

Truter het gesê hulle wag op betalings van beleggers in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), wat na verwagting teen middel Februarie sou kom.

“Ons verwag dat salarisse op of voor 13 Februarie 2026 betaal sal word,” het Truter geskryf. Teen Maandag was werkers steeds onbetaal.

Hodago het ’n gestruktureerde plan uiteengesit om die agterstand te takel. Uitstaande salarisse vir November en Desember 2025 sal met die Januarie-betaling vereffen word, terwyl Januarie- en Februarie 2026-salarisse saam in Februarie betaal sal word.

Maart-salarisse, insluitend die 13de tjek, is vir Maart geskeduleer. Bestuur het beklemtoon dat die plan van die beskikbaarheid van geld afhang en daarop gemik is om vaartuigbedrywighede volhoubaar te hou.

Die maatskappy het personeel ook bedank vir hul geduld en professionaliteit gedurende die vertragings.

Hodago Fishing word bedryf vanuit Walvisbaai en neem bemanningslede in diens wat deur die Namibië Voedsel- en Verwante Werkersunie (Nafau) verteenwoordig word.

In ’n interne memorandum Maandag het die maatskappy se koördineerder vir strategie en korporatiewe bestuur, Frieda Mutongolume, personeel verseker dat die uitstaande salarisse teen gister betaal sou word. Sy het bygevoeg dat die Februarie-salaris en die 13de tjek in Maart betaal sal word.


SWAPO-VERBINTENIS

Hodago se finansiële ellende is ’n hoofpyn vir die regerende party.

Dit is ’n gesamentlike onderneming tussen Gendev Fishing Resources en ander vennote. Gendev is 96,5% in besit van Guinas Investments (Pty) Ltd, ’n maatskappy wat volledig deur Swapo besit word.

Swapo se belegging in Gendev en Hodago word op N$480 miljoen gewaardeer en was bedoel om werk te skep en armoede te verminder.

Terwyl werkers vir salarisse wag, broei daar ’n regstryd tussen die eienaars. Gendev het ’n regsgeding teen sy 40%-vennoot, Eco Fishing Processors, uitgereik en die minderheidsaandeelhouer daarvan beskuldig dat hy oor drie jaar versuim het om bydraes te lewer.

In ’n verslag aan aandeelhouers in Augustus 2025 het Paulina Haindongo, voorsitter van Gendev se direksie, gesê Eco Fishing het nie die beloofde viskwotas voorsien of finansieel tot bedrywighede bygedra nie, wat Gendev gedwing het om die volle finansiële las te dra.

Skuld het glo tot meer as N$96 miljoen gegroei, met Hodago alleen wat Gendev N$48 miljoen skuld.

Gendev het met regstappe gedreig om die minderheidsvennoot se aandele te verminder indien terugbetaling nie gemaak word nie, wat dit moontlik groter beheer oor die maatskappy kan gee om sy belegging te beskerm.

Intussen dra die 700 werknemers by die Gendev-fabriek – meestal vroue – die swaarste aan die finansiële geskil. Truter het ’n beroep gedoen op voortgesette geduld terwyl die maatskappy werk om fondse te verseker, maar vir werkers wat Kersfees en Nuwejaar sonder betaling deurgegaan het, raak geduld min. “Hoe oorleef ’n mens vir drie maande sonder ’n salaris?” vra ’n werknemer.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-04-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer