Hengari-saak: Klaer hervestig
Die ministerie van justisie en arbeidsverhoudinge het sy stilte verbreek en bevestig dat die klaer in die strafsaak teen die voormalige minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Mac Hengari, onder Namibië se program vir getuiebeskerming val.
Die ministerie het egter geweier om bekend te maak of sy buite die land se grense verskuif is.
In reaksie op vrae van die media het Edmund //Khoaseb, die ministerie se hoof van openbare betrekkinge, Donderdag gesê dat hy die klaer se huidige verblyfplek nóg kon bevestig nóg kon ontken, met verwysing na veiligheidsoorwegings.
//Khoaseb het gesê die Wet op Getuiebeskerming, Wet no. 11 van 2017, maak voorsiening daarvoor dat getuies, waar nodig, buite Namibië hervestig word.
Hy het bygevoeg dat, indien dit van die beskermde getuie vereis sou word om hofverrigtinge by te woon, die staat haar teenwoordigheid sou verseker.
Volgens //Khoaseb is die eenheid vir getuiebeskerming, onder die vaandel van die ministerie, verantwoordelik vir die magtiging en koördinering van die hervestiging van beskermde getuies.
Hy het verder bevestig dat alle koste wat deur ’n getuie aangegaan word terwyl hy of sy onder die beskermingsprogram is – insluitend reis-, akkommodasie- en ander verwante uitgawes – deur die staat betaal word.
Die ministerie wou egter nie die kriteria bekend maak wat gebruik word om te bepaal of ’n getuie buite Namibië hervestig moet word eerder as om binne die land beskerm te word.
“Die betrokke faktore en ander oorwegings in hierdie verband kan om veiligheidsredes nie bekend gemaak word nie,” het //Khoaseb gesê.
Die polisie het vroeër bevestig dat hulle bewerings ondersoek wat deur die klaer gemaak is dat Hengari ’n seksuele verhouding met haar gehad het vandat sy 16 jaar oud was.
Hengari het haar ook na bewering gedwing om ’n swangerskap te beëindig en het glo nog ’n kind by haar tydens die beweerde verhouding verwek. Hengari het dié bewerings herhaaldelik ontken. Hy is nóg in hegtenis geneem nóg formeel aangekla in verband met die aanklagte wat sy in November 2024 teen hom aanhangig gemaak het.
DNS-monsters is in 2025 van beide Hengari en die klaer, destyds 21 jaar oud, versamel om die vaderskap van die kind te bepaal.
BRONNE
’n Bron na aan die saak het aan Republikein gesê die klaer en haar kind is buite Namibië se grense hervestig weens beweerde kommer oor haar veiligheid terwyl die ondersoek voortduur.
Volgens die bron is die beweerde hervestiging deel van ’n beskermingsreëling waarvolgens die klaer se plek van verblyf vertroulik gehou word. Sy sal glo net na Namibië terugkeer wanneer dit nodig is om in die hof te getuig.
’n Ander bron wat vertroud is met prosedures vir getuiebeskerming het aan Republikein gesê hervestiging buite die land word slegs in uitsonderlike omstandighede oorweeg. Dit sluit in wanneer die owerhede glo dat ’n getuie ’n ernstige bedreiging in die gesig staar en plaaslike beskermingsmaatreëls onvoldoende is.
“As daar ’n dreigende risiko of gevaar is, word hulle na ’n veilige land geneem. Hulle kom dan terug vir hofverrigtinge, maar niemand het besonderhede oor hul verblyfplek nie. Mense sal die getuie net in die hof sien,” het die bron gesê.
Die bron het bygevoeg dat sulke reëlings in samewerking met die land van ontvangs getref word, wat instem om die getuie te beskerm.
AANKLAER-GENERAAL
In ’n antwoord op vrae het die kantoor van die aanklaer-generaal verlede week gesê sake rakende getuiebeskerming word ingevolge die Wet op Getuiebeskerming 11 van 2017 hanteer.
Die kantoor het gesê die wet “stel die eenheid vir getuiebeskerming in, onderleiding van ’n direkteur. Die eenheid hanteer aangeleenthede sowel as aansoeke wat verband hou met toetrede tot die program vir getuiebeskerming. Toetrede tot die program berus op vrywillige aansoeke deur persone wat tot die program wil toetree”.
POLISIE
Die Namibiese polisie se woordvoerder, adj. komm. Kauna Shikwambi, het by navraag gesê die polisie is nie by die saak betrokke nie.
Sy het alle vrae rakende die beweerde hervestiging van die klaer na die ministerie van justisie verwys.
Volgens Shikwambi is Hengari op aanklagte van omkopery en dwarsboming van die gereg of die belemmering van die verloop van geregtigheid in hegtenis geneem en is geen aanklagte rakende die beweerde verhouding met die klaer teen hom aanhangig gemaak nie.
Die ondersoek na die klaer se bewerings duur voort en geen besluit is nog aangekondig oor of enige aanklagte teen die voormalige minister aanhangig gemaak sal word nie.
Die aanklag van omkopery spruit uit die owerhede se bewering dat Hengari die klaer N$220 000 aangebied het om haar strafregtelike klag terug te trek. Hy het dié aanklag ook ontken.
Intussen blyk ’n dispuut oor die DNS-resultate nader aan ’n oplossing te beweeg, nadat die ministerie van justisie bewerings deur Hengari se regspan verwerp het dat die staat nie voldoen het aan ’n hofbevel wat die openbaarmaking van die volledige polisiedossier vereis nie.
Volgens //Khoaseb het die staat aan die hofbevel voldoen en dat die dossier wat openbaar gemaak is, die DNS-resultate insluit wat deur die verdediging versoek is.
“Die staat verwerp die bewering dat hy nie aan die hofbevel rakende die openbaarmaking van die dossier voldoen het nie. Die volledige dossier is aan die verdediging in ooreenstemming met die toepaslike regsprosesse verskaf,” het hy gesê.
//Khoaseb het bygevoeg dat dié dossier die DNS-uitslae insluit. Hy wou egter nie die dokumente aan die media verskaf nie.
Volgens hom kan materiaal wat deel vorm van die hofrekord en die dossier, nie afsonderlik deur die ministerie vrygestel word nie.
VERDEDIGING
Mekumbu Tjiteerem, senior vennoot van WKH Incorporated, wat Hengari verteenwoordig, het aan Republikein bevestig dat die verdediging sedertdien kommunikasie ontvang het dat die dossier wat openbaar gemaak is, beskikbaar is.
Hy het gesê die betaling vir afskrifte van die dossier is Maandag gemaak.
Tjiteere het egter gesê die verdediging het nog nie die geleentheid gehad om die dokumente te bestudeer nie en kan daarom nie bevestig of die DNS-uitslae deel van die openbaarmaking uitmaak nie.
“Indien die DNS-uitslae nie deel van die bekendgemaakte dokumente is nie, sal ons na die hof terugkeer om ’n bevel te kry wat die staat dwing om dit beskikbaar te stel," het hy gesê. – [email protected]


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie