Wetsontwerp vir geestesgesondheid aanstaande jaar ter tafel gelê

Henriette Lamprecht
Die wetsontwerp vir geestesgesondheid wat die verouderde wet vir geestesgesondheid van 1973 sal vervang, sal na verwagting vroeg aanstaande jaar in die parlement ter tafel gelê word. Volgens die programbeampte vir geestesgesondheid in die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, me. Magdalena Didalelwa, sal dit Namibië onder meer help om struikelblokke soos die gebrek aan infrastruktuur en geriewe, sowel as 'n tekort aan vaardige persone en finansiering te takel. Die land het ook 'n reuse tekort aan psigiaters en sielkundiges.
Die land het net een volledige openbare inrigting vir geestesgesondheid by die Windhoek Sentrale Hospitaal, een saal by die Oshakati-hospitaal en die private inrigting Bel Esprit.
Volgens data van die ministerie is ten minste 5 139 mense tussen April 2019 en Maart 2020 in dié inrigtings opgeneem, terwyl 9 782 buite-pasiënte gesien is. Die geriewe het ook 82 119 herbesoeke aangeteken.
"Ons moet dieselfde na geestesgesondheid kyk as na siektes en fisiese toestande. Geestesgesondheid raak almal van ons en meer moet gedoen word in terme van navorsing, finansiering, ondersteuning en belegging," het Didalelwa gesê.
Volgens haar is dit ook 'n taboe en word dit dikwels met heksery verbind. - Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer