Wat sal op jou bord wees?

[email protected]
Sanet de Waal
Yolanda Nel

Ek kom so ruk terug op ’n video af waar hulle ’n paar gevangenes se laaste maaltydversoeke bespreek en ek is gefassineer deur sommige se versoeke.

Dit het my nogal laat wonder wat ék sou kies as ek geweet het dit is my laaste maaltyd. Ek reken ’n groot bederf met ’n verskeidenheid sushi is bo aan my lys, maar my mond water aan die gedagte van ’n kaas-en tamatieroosterbroodjie – met ekstra kaas, baie sout en peper en bietjie asyn.

Victor Feguer het ’n enkele olyf – met die pit in – op sy spyskaart gehad. Hy is in 1963 gehang, nadat hy skuldig bevind is aan ontvoering en moord. Die pit van die olyf is ná sy dood in sy baadjie se sak gekry en baie het gedink hy het gehoop ’n olyfboom sou groei, wat vrede voorstel.

Lawrence Bruwer het besluit hy gaan hierdie geleentheid misbruik en het in 2011 die volgende op sy spyskaart gehad: Twee hoenderschnitzels, ’n tripel spek-en-kaas-burger, ’n kaasomelet met maalvleis, drie fajitas, ’n groot pizza, ’n pond maalvleis met ’n halwe witbrood, fudge en ’n bak roomys vir ’n soetigheid en drie biere. Toe die kos by hom aankom, het hy geweier om ’n hap van enigiets te vat en het aangevoer hy is nie honger nie. Senator John Whitmire was woedend toe hy daarvan te hore kom en het die laaste maaltyd in sy deelstaat verban.

Die reeksmoordenaar John Gacy, ook bekend as Pogo the Clown, het 12 garnale, ’n KFC-bucket met tjips en ’n pond aarbeie versoek. Gacy het drie KFC-kettingwinkels bestuur voor hy aan ongeveer 33 moorde skuldig bevind is. Dit blyk dat hy steeds nie genoeg van dié bederf kon kry nie.

John Spenkelink het nie vir kos gevra nie; net ’n fles vol Jack Daniels. Die drankie het hy saam met die tronk se superintendent geniet. Ná die versoek, is alkohol verbied.

Aileen Wuornos wou ook niks te ete gehad het nie en het net ’n beker swart koffie gesoek.

Ricky Rector het weggelê aan sy laaste maaltyd wat uit steak, hoender, ’n koeldrank en ’n sny pekanneuttert bestaan het. Hy het wel nie aan sy nagereg geraak nie en toe hulle hom vra waarom nie, het hy gesê hy bêre dit vir later.

Dawid Woods het vir 22 jaar op die doodstraf gewag en het vir ’n groot pizza en ’n verjaardagkoek as sy laaste maaltyd gevra. Hy het die maaltyd met vriende en familie gedeel, hoewel sy verjaardag eers drie maande later was.

Sommige versoeke is vreemd en ander laat geen geheim wat hul gunstelingkosse is nie. Maar as jy die geleentheid gegun word – uit die belastingbetaler se beursie – maak dit seker nie saak wat jy eet nie, solank dit net lekker is.

Ná hierdie lys dink ek ek verander my vorige spyskaart en vra dalk eerder vir ’n lekker stukkie braaivleis en aartappelslaai.

Kommentaar

Republikein 2025-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer