Victor: ‘Hartseer om Superrugby te groet’

Rugby
Cobus Claassen – ’n Goeie finansiële besluit, maar vir Victor Matfield bly Superrugby die moeilikste kompetisie in wêreldrugby.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het Dinsdag ná afloop van ’n spesiale algemene vergadering aangekondig dat sy Super-franchises – die Bulle, Leeus, Haaie en Stormers – dié kompetisie ná 25 jaar groet om na die Noordelike Halfrond te skuif.
“Dit is hartseer. Ons almal onthou hoe ons vroeg Saterdagoggende opgestaan het om ons spanne in Nieu-Seeland te sien speel.
“Om spelers soos Jonah Lomu en Tana Umaga in aksie te sien en later self in die kompetisie te speel, was baie spesiaal,” sê Matfield.
Dié Springbok-slot het 148 wedstryde in die Superreeks gespeel en het die Bulle aangevoer toe hulle dié titel in 2007, 2009 en 2010 verower het.
Hy het in sy loopbaan ook vir Toulon in Frankryk en die Northampton Saints in Engeland gespeel.
“Dit (Superrugby) is die kompetisie wat die grootste eise aan ’n span stel. Jy toer in Nieu-Seeland en Australië, wat nooit maklik is nie, en moet oor ’n lang tydperk bestendig wees en goeie rugby speel.
“Vir my vergelyk die wen van die Superrugby-trofee met die Wêreldbeker (wat die Bokke in 2007 in Frankryk gewen het) en die reekssege oor die Britse Leeus (in 2009).”
Matfield, ook die mees ervare Springbok van alle tye, sê dit maak uit ’n finansiële en logistieke oogpunt sin om deel van ’n Pro16-reeks te word.
“Dit sal dit vir ondersteuners makliker maak om ’n wedstryd in Europa te gaan bywoon as wat nou die geval is.
“Ek hoop egter ons deelname sal nie net tot die Pro-reeks beperk word nie en dat ons spanne vorentoe hul visier ook op die Heineken-beker kan instel.”
Matfield sê hoewel die voorste spanne in die Noordelike Halfrond die laaste vier of vyf jaar baie verbeter het, glo hy steeds dat die Kiwi’s, ongeag of dit op toets- of Superrugby-vlak is, die sterkste teenstanders is.
“Jy wil jou steeds teen Nieu-Seelandse spanne toets.
“Die besluit beteken waarskynlik dat die Bokke ook noord sal gaan.
“In daardie geval hoop ’n ou dat die All Black-toere van die verlede kan herleef.”
Daar is vroeër vanjaar bespiegel dat die Springbokke hulle ná 2025, wanneer die beheerliggaam Sanzaar se huidige uitsaaikontrak verstryk, by Engeland, Frankryk, Ierland, Skotland, Wallis en Italië in ’n nuwe Sewenasies-reeks kan aansluit.
Matfield is voorts bekommerd dat daar net vir vier Suid-Afrikaanse franchises voorsiening gemaak word.
“Ons het te veel talent in ons rugby om met net vier spanne oorsee te speel.
“Wat van die Cheetahs en selfs spanne soos Griekwas en die Pumas? Nog meer van ons talent sal verlore gaan as ons nie meer oorsese blootstelling kry nie.”
– Netwerk24


FOTO
Victor Matfield (middel) het die Bulle gelei toe hulle in 2010 in Soweto ’n derde keer in vier seisoene as die Superrugby-kampioene gekroon is. Foto Gallo Images

Kommentaar

Republikein 2026-06-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer