Twee seuns, vier ander sterf op paaie

Verskeie padongelukke, asook twee verdrinkings en twee verkragtings is die naweek by die polisie aangemeld.
Ses mense het die naweek landswyd in ongelukke gesterf, onder wie twee seuns van 10 en 12 jaar. Een van die ongelukke is veroorsaak toe stof sig op die Hochfeldpad sodanig verswak het dat ’n bakkie van agter in ’n vragmotor vasgery en twee mense gesterf het.

Mnr. Vickson Mtuleni (12) is Vrydag op pad na die staatshospitaal op Engela dood nadat hy glo deur ’n voertuig gestamp is. Die voorval het om 07:00 op die hoofpad tussen Omafo en Okalongo plaasgevind.

Op die hoofpad tussen Onhuno en Eenhana by die Eembidi-nedersetting het twee mense Saterdag om 09:20 gesterf toe hulle in ’n kop-teen-kopbotsing betrokke was. Die bestuurder van ’n sedanvoertuig het glo by ’n ander voertuig verbygesteek en teen ’n aankomende bakkie gebots. Die bestuurder van die sedanvoertuig is op die toneel dood en een passasier het in die Engela-hospitaal gesterf. Twee ander passasiers is met beserings in die hospitaal opgeneem.

Die bestuurder van die bakkie is ernstig beseer. Die oorledenes is mnr. Tomas Nghoshi (34) en me. Lydia Makili (53).

Sondag is twee mense op slag dood toe die voertuig waarin hulle gereis het van agter teen ’n vragmoter gebots en omgeslaan het. Die ongeluk het 12:00 op die hoofpad tussen Okahandja en Hochfeld plaasgevind. Mnr. Julius Sheende (46) en me. Erenfriede Mujaru (40) is dood terwyl nog drie mense in die staatsshopitaal op Okahandja opgeneem is. Die vragmoterbestuurder is nie beseer nie.

Marko Snyman (10) is Sondag op die hoofpad tussen Aranos en Stampriet dood toe die voertuig omgeslaan het waarin hy ’n passasier was. Die bestuurder (24) het glo beheer oor die voertuig verloor en dit het omgeslaan. Sy het rugbeserings opgedoen.

Sondag om 20:00 is me. Kadira Matheus dood toe sy glo deur ’n bus gestamp is terwyl sy die pad wou oorsteek. Die voorval het in die Tyeye-nedersetting by Rundu plaasgevind.

’n Werker van NamWater het Saterdag om 09:40 die ontbinde lyk van ’n 25-jarige Angolese burger in die waterkanaal gevind.

Die oorledene is glo Donderdag laas gesien toe hy die huis verlaat het om na ’n cuca-winkel toe te gaan. Die voorval het in die Omagolowani-nedersetting in die Omusatistreek plaasgevind.

Die driejarige Sirkka Hamunyela het na bewering in ’n dam verdrink. Die voorval het Saterdag om 19:00 in die Eembidi-nedersetting plaasgevind. Sy en nog ’n kind het glo water by die dam gaan haal. Haar houer het glo in die dam in geval en sy wou hom uithaal, maar het self ingeval en verdrink.

’n Negejarige meisie is glo deur haar 20-jarige neef verkrag terwyl sy geslaap het. Die slagoffer en die verdagte woon in dieslfde huis in die Onanhadi-nedersetting.

Die voorval het Sondag tussen 00:00 en 02:00 plaasgevind.

Saterdag om 01:30 is ’n 26-jarige student van die IUM-kampus op Nkurenkuru glo deur ’n onbekende man verkrag terwyl sy op pad huis toe was. Die polisie ondersoek die voorval.

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer