Supersterre op die kaart

Dani Booysen
Dinsdag het Namibië se twee tienerblitse, Christine Mboma en Beatrice Masilingi, ons almal herinner aan hoe die oorkoming van oënskynlik onoorbrugbare uitdagings met genoeg toewyding – in ons diverse eenheid – oorkom kan word.

Hierdie atlete het ons met ‘n geskiedkundige eerste verskyning van twee Namibiërs in ‘n Olimpiese finaal, en opgestapelde rekords en persoonlike beste tye, gewys om elke oomblik na die hoër sport van die leer te streef. Pure geluk het min met sulke sukses te doen.

Verbeel jou net ons kan elke nasionale, streeks-, plaaslike en selfs individueel persoonlike, ook intiem eie, uitdagings op dieselfde wyse aanpak.

Op die baan van wêreldatletiek en op internasionale sportvelde is die Namibiese vlag ‘n kwarteeu ná die legendariese Frank Fredericks se vertonings nou weer ferm geplant. Die bydraes van afrigter Henk Botha, sy gesin en Grootfontein se Agri College, bewys hoe saamstaan – in die geval uit Rundu gebore – die weg tot sukses baan. Die resep moet ons op elke lewensvlak tot groter hoogtes aanspoor.

Dit is jammer hoe ons atlete se prestasies – veral met deurdringing tot die finaal en toe die medalje – in sommige kringe reaksies ontlok het dat testostoroon-reëls nou nog fyner nagegaan moet word om aan atlete met ‘n “onregverdige” voordeel rooikaarte uit te deel.

Christine en Beatrice se diskwalifisering om aan die 400 m deel te neem, bly deel van elke kommentator en sportskrywer se skietgoed.

Benewens voorbereiding vir Parys 2024, wag daar ‘n veel groter stryd… En ons staan agter julle.

So sê ander

4 Augustus 2021

Nog heelwat ratte moet verwissel vir Eskom-sukses

Die nuus dat Eskom vordering maak met die invordering van agterstallige skuld by munisipaliteite is goeie nuus.

Dit blyk egter dat die vordering baie relatief is. Tans word dit bloot gemeet aan ’n jaarlikse toename wat al hoe minder styg.

’n Deel van Eskom se taktiek is om hofbevele teen munisipaliteite te bekom, op hul bates beslag te lê en om krag vir die grootste deel van die dag af te sny. Die afsnyery kry egter teenstand van ondernemings wat getrou hul krag betaal. Daarom het van hulle suksesvolle hofbevele teen van die afsnyery bekom.

Die kern van die probleem is steeds die onbevoegde en meermale korrupte manier waarop munisipaliteite bestuur word. Ook die feit dat hulle Eskom-krag teen ’n wins aan verbruikers verkoop en die inkomste misbruik en aan onnodige weelderige byvoordele bestee.

Die ANC is ter wille van stembus-oorwegings baie laks om ’n kultuur van wanbetaling direk te konfronteer. Dit is op ’n ongedissiplineerde manier geduld en het die grootste probleem en oorsaak van agterstallige skuld geword.

Boonop het die ANC, pleks van ’n model vir ekonomiese groei, ’n sosialistiese afhanklikheidsmodel gevestig.

Daadwerklike vordering om Eskom uit die rooi te kry en as betroubare kragverskaffer te vestig, kan net gemaak word as al die ander kwessies behoorlik en met ’n daadwerklike oplossingsgerigte plan getakel word.

• NETWERK24

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer