Spesiaal vir die vroue – en ook die mans

Mandy Rittmann
REINHARD VAN WYK SKRYF: Dis ’n mooi sonskyndag wat vir ons aangebreek het en ek dank die Skepper daarvoor.

Aan die dames: Hoe mooi is u tog, my vriendin, “u oë is soos duiwe deur ’n sluier heen, u hare is soos kudde bokke wat van die gebergte van Gilead afgolf”.

So gaan dit aan en voort, verse in Hooglied, U kan dit naslaan. Dis mooi woorde wat ruk aan my hart, want dis waar. ’n Dame het daardie skoonheid, oud of jonk. Sy is kosbaar en geld kan nie daardie sprokie vernietig nie.

Om na ’n dame te kyk is ’n voorreg, want daardie soort skoonheid bly vir ewig. Dis met vreugde dat ek hierdie dag beleef, so ook elke dag.

Maar daar kom ook seer in my oë en pyn in my hart oor die dames in ons wêreld.

As ek ’n koerant lees, lees ek van dames wat verkrag, vermoor is, ’n dame wat haar kind verloor, ’n dame wat selfmoord gepleeg het, of wat op skei staan. Dan wonder ek wat is besig om van ons mensdom te word.

My trane loop sommer vanself, want my hart gaan uit na die dames. As ek op miljoen plekke in een dag kon wees, sou ek elke dame ’n drukkie wou gee. Om te sê ek gee om, of om ’n roos te gee, en sê jy is nooit alleen nie.

Die Here is met jou en Hy dra saam aan daardie probleem wat jou skouers so laat hang, en Hy sal jou trane afdroog, maar ek is net ’n gewone ou.

’n Dame is ’n gawe van God en sy is soos ’n lelie tussen dorings. Sy skitter soos ’n diamant van blydskap as jy vir haar rose gee, sy bloos bloedrooi soos ’n robyn wanneer sy verlief is en sy ’n kompliment ontvang.

Ook is sy so sag soos ’n marshmallow wanneer jy haar teen jou vasdruk.

Dan sien ek weer ’n dame met blou kringe om haar oë en die seer en bitterheid daarin, dan wil ek haar vasdruk van bemoedig. Maar ek kan nie, vir haar is ek ’n vreemdeling.

’n Dame oud of jonk, het beskerming, liefde en respek nodig. ’n Dame verdien net die beste.

Ek sê aan al die dames dankie dat julle daar is vir ons mans; sonder julle sou die lewe darem boring gewees het.

Dis immers deur dames wat ’n lewe geskenk word. Kyk met aandag na ’n dame wanneer sy geboorte gee.

Sy is so mooi en broos, net soos die baba en haar wange bloos van trots oor die nuwe lewe wat sy in die wêreld gebring het. Wanneer ’n dame seerkry, kry ek ook seer. Sy is mos die rede vir my bestaan.

Ek is ’n alleenloper. En ek weet dat geen dame twee keer na my sal kyk nie, want ek is lelik, besit nie ’n motor, is nie ’n filmster, besit nie miljoene, dra nie ontwerpersklere nie.

Wat aan my vreugde sal verskaf, is as ons as mans met ander oë na dames kan kyk; jou vrou, dogter, ma en jou ouma. Almal is so mooi en broos. As ons net elke keer vir hulle ’n drukkie, liefde en ’n kompliment kan gee, sal jy die waardering in hul oë sien.

’n Dame is daar om waardeer te word, nie om te mishandel en seer te maak nie. Gee oorvloedig liefde en waardering; ’n dame verdien respek.

Dames, julle is ons mans se lelies en anker, ons mans moet julle waardeer, elke glimlag wat jy gee. Weet net dat God jou lief het; as daar seer in jou lewe is, God is daar. Hy sê: “Ek sal jou nooit verlaat, ook sal ek jou nooit in die steek laat nie.”

Al wat jy moet doen, is gaan op jou kniëe, en stort jou hart uit. Hy luister.

Dames, mag elke dag vir julle ’n vrouedag vol lentebloeisels wees.

My liefde en respek lê diep vir elke dame in die wêreld en mag God se hand oor elke dame wees, oud en jonk, en die pyn en verbittering uitwis, in Jesus naam. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-12-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer