Ruim skenkings vir Covid-19-bekamping

Altesaam 43 skenkings van goedere ter waarde van meer as N$174 miljoen is deur die Namibiese regering ontvang.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – Die Namibiese regering het glo sowat N$113 miljoen kontantskenkings ontvang, asook oorplasings deur die regering, vir die bekamping van die Covid-19-pandemie.

Volgens ’n mediaverklaring van die kantoor van die eerste minister het die regering vanaf Maart tot Augustus vanjaar sowat N$50,3 miljoen kontantskenkings ontvang om die impak van Covid-19 hok te slaan.

Die regering se oorbetalings en staatsgefinansierde uitgawes sluit ’n bykomende N$83,5 miljoen in.

Volgens die inligting van die kantoor van die eerste minister beloop die totale inkomste N$113,5 miljoen.

Die kontantskenkings sluit 122 skenkings van individue, agt van kerke, nege van staatsondernemings en 49 vanuit die private sektor in.

Die private sektor het altesaam ongeveer N$45,4 miljoen bygedra en die regerende party N$1 miljoen.

UITGAWES

Die regering het glo sowat N$65,4 miljoen reeds vir voedselvoorsiening, die aankoop van mediese toerusting, vervoeruitgawes, akkommodasie- en logistieke uitgawes en die voorsiening van maskers gebruik.

Volgens die kantoor van die eerste minister sal die oorblywende fondse slegs gebruik word vir bykomende Covid-19-verwante uitgawes.

NIEKONTANT SKENKINGS

Altesaam 43 niekontant skenkings van goedere ter waarde van meer as N$174 miljoen is glo vanaf Maart tot Augustus ingesamel.

Die Verenigde State van Amerika het op 24 April glo mediese toerusting ter waarde van N$100 miljoen geskenk.

Die Verenigde Nasies (VN) se Ontwikkelingsprogram (UNDP) het verskeie goedere geskenk met ’n gesamentlike waarde van ongeveer N$17 miljoen.

Die De Beers-groep het op 6 April glo N$15 miljoen en Debmarine Namibia sowat N$9 miljoen se mediese toerusting geskenk.

Die Africa Development Bank het glo kos ter waarde van N$5 miljoen toegestaan.

AGTERGROND

Ná die uitbreking van Covid-19 en die aankondiging van die noodtoestand het die kantoor van die eerste minister ’n bankrekening geopen waarin kontantskenkings en oorplasings van die regering inbetaal kan word.

Die kantoor van die eerste minister het ook die regering se niekontant skenkings gereguleer en die regering se uitgawes verreken.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer