Polisie waak by Shoprite-staking

Shoprite het 'n dringende aansoek teen Nafau, stakende werknemers en die Namibiese polisie ingedien.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – Die Shoprite-groep het Woensdag 'n dringende aansoek by die hoërhof in Windhoek ingedien teen die Namibiese Unie vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau), stakende werknemers, die arbeidskommissaris en die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie.

Die winkelgroep beweer dat Nafau en die stakende werknemers sowat sewe van die reëls verontagsaam het soos uiteengesit in die stakingsooreenkoms, wat op 7 Desember deur Shoprite en Nafau onderteken is.

Die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie is ingesluit in die dringende aansoek sodat hy die polisiemag kan beveel om seker te maak dat Nafau en die stakers by die bepalings van die ooreenkoms hou.

Tot gister was die polisie nie teenwoordig by die staking nie en Shoprite maak sedert Maandag van sekuriteitsmaatskappye soos G4S gebruik om wagte te voorsien om voor winkels wag te staan.

'n Betoging is gister deur Nafau, stakers en simpatiseerders gehou.

Ná die nuus van die dringende aansoek en Nafau se betoging, het die polisie se adjunk- inspekteur-generaal vir administrasie, genl.maj. Anna-marie Nainda, 'n verklaring uitgestuur waarin sy 'n vreedsame betoging versoek.

“Indien die betoging nie prosedure volg nie, sal die polisie nie huiwer om toe te tree nie. Onwettige dade, aanhitsing van geweld of enige gewelddadige optrede sal nie geduld word nie,” lui die verklaring.

Gister was die meerderheid van die hoofstad se Shoprite-, Checkers- en USave-winkels nie deur die staking beïnvloed nie. Buiten klein groepe stakers minstens 50 meter van winkels en sekuriteitswagte by die ingang was dit besigheid soos gewoonlik.

Die Shoprite in Onafhanklikheidslaan se groep stakers was wel groter, met sowat 50 betogers, en die polisie was ook daar teenwoordig.

In die skare stakers by Shoprite was geen rooister-AR-pette te siene nie, maar hul teenwoordigheid by stakings teen die kus is glo meer opmerklik.

Die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR) het Dinsdag aangekondig dat dit Nafau se staking teen die Suid-Afrikaanse kleinhandelgroep Shoprite se winkels in Namibië sal ondersteun om die nodige stukrag te bied.

Die AR-aktivis en gewese raadslid vir die Walvisbaai stedelike kiesafdeling, mnr. Knowledge Ipinge, het in 'n plasing op sy Facebook-blad aangedui dat hulle gister die deure van Walvisbaai se Shoprite en Checkers by die Dunes Mall sou toemaak.

Daar is teen gistermiddag geen aanduiding dat die landswye betoging handuit geruk het nie.



HOFAANSOEK TEEN NAFAU

EN STAKERS

Shoprite poog om 'n hofbevel teen die stakers en Nafau te kry wat hulle belet om verder op enige manier by die maatskappy se bedrywighede in te meng.

Dit sluit in enige wyse van beperking, intimidasie, teistering of aanval van die niestakende werknemers of klante op die maatskappy se perseel, inmenging met bedrywighede soos die aflewering van goedere of betogings binne 50 meter van die perseel.

Die saak sal op 18 Januarie in die hof aangehoor word. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer