‘Plastiese’ koffiekapitaal en plastieklepels

[email protected]
Sanet de Waal
Sanet Pearson – Ek is gek oor koffie. Ek drink nou wel meeste van die tyd “plastiese koffie” soos een van my kollegas dit noem, maar ek geniet ook ’n lekker cappuccino of filterkoffie.

Ek trek die streep by espresso; dink nie ek wil borshare hê nie, dankie. Andersins kan ek nie ’n dag sonder koffie gaan nie.

My ma het net rooibostee gedrink, maar dit is nadat sy volgens haar dokter kafeïenvergiftiging gekry het. Sy het dokter toe gegaan en hy het haar gevra hoeveel koppies koffies sy ’n dag drink. Ek dink in daardie stadium het sy agt of meer koppies filterkoffie per dag gedrink. Sy was die ene bewerasies.

Die dokter het vir haar gesê sy moet sou gou as moontlik ophou koffie drink. Sy het van daardie dag af nie weer koffie gedrink nie, net swart rooibostee sonder suiker. Ek weet nie of ek my geliefde koffie só vinnig sal kan los nie.

Ek het bietjie oor koffie gaan oplees en op hierdie interessante feite afgekom:

(1) Koffie is die produk wat wêreldwyd die tweede meeste verhandel word. Ru-olie is eerste.

(2) Koffie is ’n vrug en koffiebone groei aan ’n struik. Daar is twee hooftipes boontjies, groen en rooi.

(3) As jy room by jou koffie voeg, hou dit die koffie 20% langer warm.

(4) In die jaar 1511 het Mekka koffie verbied. Hulle het geglo koffie bevorder luiheid en radikale denke.

(5) Die wêreld se duurste koffie is “Kopi Luwak”. Die oorsprong daarvan is in Indonesië. Dit word gemaak van bone wat gedeeltelik deur die Asian Palm-sivetkat verteer word en dan word dit uit die dier se mis gehaal en koffie word daarvan gemaak. Die eindproduk word glo vir €350 per kilogram verkoop. Weet nie rêrig of ek van dié koffie wil proe nie.

(6) Die storie loop ook so dat ’n bokwagter in die 1500’s koffie in Ethiopië ontdek het. Hy het gesien hoe sy bokke koffiekersies eet. Daarna het hy ’n verandering in hul gedrag opgemerk. Hulle het baie energie gehad en kon nie snags slaap nie. Die veewagter het sy ontdekking met plaaslike monnike gedeel en hulle het besef dat hulle met behulp van dié wondermiddel die hele nag kon wakker bly en bid. Hulle het die nuus aan ander Ethiopiese monnike vertel, en dit het oor die hele wêreld versprei.

Meer as 70 lande kweek koffie, maar die grootste gedeelte van die wêreldproduksie kom van dié topvyf produsente: 1. Brasilië, 2. Viëtnam, 3. Colombië, 4. Indonesië en 5. Ethiopië.

Hier is ’n bietjie koffiehumor. Net ’n goeie wenk: As jy koffie maak. . . roer met ’n plastiese lepel, anders soek die hele wêreld weer koffie.

I only need coffee on days ending with “y”.

What did the coffee say to the other coffee? Where have you bean all my life. Ek wonder ook.

Kommentaar

Republikein 2026-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer