Parlement open volgende week

Ronelle Rademeyer
Pres. Hage Geingob sal die parlement se verrigtinge vir 2021 op 9 Februarie open. Dit is ook die dag waarop Namibië die aanvaarding van sy Grondwet 31 jaar gelede herdenk.
Mnr. David Nahogandja, woordvoerder van die Nasionale Vergadering, sê in 'n verklaring daar sal geen militêre parade of kulturele optredes wees nie. Die verrigtinge sal ook nie deur gaste bygewoon word nie en geen onthaal sal ook na afloop daarvan gehou word nie.
Trouens, net 50 mense sal met inagneming van die Covid-19-regulasies teenwoordig wees.
Twaalf wetsontwerpe sal vanjaar in die parlement ter tafel gelê word. Dit sluit die wysigingswet op die bekamping van verkragting, asook die een op die bekamping van huishoudelike geweld in.
Ander wetsontwerpe is dié op egskeidings, huwelike, kindergeregtigheid en eenvormige huwelike.
Die verrigtinge sal regstreeks op die Nasionale Vergadering se Facebookblad uitgesaai word.

Kommentaar

Republikein 2025-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer