Parlement hervat midde volksmoord-onmin

Nama-, Herero- en opposisiewoordvoerders is eenparig in hul verwerping van die ooreenkoms met Duitsland.
Augetto Graig
Augetto Graig

Die nuwe heining wat stil-stil rondom die ikoniese parlementstuine in die hoofstad gebou is, se hekke sal vanmiddag oopgestel word.

Of toegang tot die gesogte koeltebome en grasperke ook vir die publiek toegelaat word, wanneer parlementslede vanmiddag na hul werk terugkeer, is een van verskeie vrae wat gister steeds nie beantwoord is nie.

Die parlement hervat vandag met die vierde sessie van die sewende parlement van Namibië. Amptelik moes die Nasionale Vergadering gedurende die tweede helfte van die derde sessie vroeg sy besigheid opskort weens toename van Covid-19 gevalle teen die begin van Augustus.

Die opskorting was net na die omstrede aanstelling van Namibië se nuwe ombudsman, en lede van die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN), deur toepas van Swapo se meerderheid teenwoordiging amptelik aangewys is.

Die huis hervat vanaf 7 September tot Donderdag 25 November 2021.

Die parlementêre woordvoerder mnr. David Nahogandja het gister gesê besonderhede oor hoe lank die nuwe heining is, wie dit gebou het en teen watter koste, hoekom dit nodig is, wat die heining vir toegang beteken en hoekom dit so onooglik ontwerp is, kan eers vandag gedeel word.

Vandag se verwikkelinge beloof opnuut ’n baie interessante geleentheid weens die verwagting dat die regering dalk sy multimiljardooreenkoms met Duitsland, in verband met die 1904-1908 volksmoord, vir goedkeuring ter tafel mag lei.

By die geskiedkundige Kommandosaal in Katutura het opposisiepartye insluitend die LPM, PDM, IPC en Namibië se oudste party Nudo, met die Nama Tradisionele Leiersvereniging (NTLA) en die Ovaherero tradisionele owerheid (OTA) beraadslaag. Daar is ooreengekom om die regering se ooreenkoms met Duitsland ten sterkste te verwerp.

Mnr. Deodat Dirkse van NTLA en voorsitter van die tegniese komitee oor die volksmoord, het bevestig dat alle betrokke partye die ooreenkoms verwerp. In beginsel is hulle eenparig dat hulle innoverende strategieë sal volg om herstellende regverdigheid en deelname van gemeenskappe betrokke by die volksmoord te kry.

Hy dring aan dat betrokke gemeenskappe nie oor die ooreenkoms geraadpleeg is nie en dus is die parlementêre resolusie van 2006 in die verband nie gevolg nie.

“As die regering aandring dat hulle die gemeenskappe konsulteer het, sal hulle dit uiteindelik in die hof moet bewys,” sê hy. Volgens hom is die tradisionele leiers bewus van leuens dat wyd met die betrokke gemeenskappe besprekings gehou is, en hulle het gesien dat beamptes nou besoek aflê by afstammelinge van oorlewendes van die volksmoord.

“Hoe kan jy nou kom konsulteer nadat jy reeds die ooreenkoms afgehandel het? Dis belaglik,” sê hy.

Dirkse sê hy weet nie of dié kwessie wel vandag na vore sal kom nie, omdat amptelike kennisgewing nog nie gebeur het nie, maar selfs indien parlementêre goedkeuring van die ooreenkoms deurgedruk word, sal dit niks verander nie, sê hy.

“Al die Nama en Herero verwerp die ooreenkoms. As Swapo dit wil rubberstempel, sal dit vir ons niks beteken nie,” sê hy en waarsku die kwessie hou die gevaar vir potensiële onrus in.

Nahogandja kon ook nie bevestig of die volksmoordkwessie vandag bespreek sal wees nie.

“Ons sal eers weet as kennis daarvan op die vloer gegee word,” het hy gesê. Volgens hom sou so ’n kennisgewig vanaf die uitvoerende gesag kom, heel moontlik vanaf die eerste minister se kantoor, aangesien eerste minister me. Saara Kuugongelwa-Amadhila die ooreenkoms in Junie in die parlement voorgestel het. Woordvoerders vir die eerste minister se kantoor kon gister egter niks bevestig nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer