Ons taal

Afrikaanse woordeboeke
Sanet de Waal
Môre is Internasionale Woordeboekdag. Dis die verjaardag van Samuel Johnson (1709-1784), beroemde Engelse leksikograaf en samesteller van die eerste gesaghebbende Engelse woordeboek, naamlik die Dictionary of the English Language (1755).

Gegee die inhoud van my vorige bydrae, mag hierdie een se inleiding effens ironies klink, want hoewel baie groot woordeboeke van die gedrukte medium na die elektroniese medium skuif, het Pearson besluit dat selfs die aanlyn weergawe van die bekende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) nie meer lank sal bestaan nie.

Dit is ongetwyfeld 'n groot terugslag vir die Afrikaanse taal. Dit is egter nie noodwendig die einde van die Afrikaanse woordeboek nie.

Werk aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) duur onverpoosd voort: Die letter S is afgehandel en die woordeboek behoort binne die volgende dekade afgehandel te wees, waarna met die bywerking daarvan begin sal word.

Die WAT is 'n omvattende woordeboek, wat beteken dat dit soveel as moontlik Afrikaanse woorde wil opteken en daardie woorde so uitvoerig as moontlik wil behandel.

Dit spreek dan vanself dat die WAT ietwat dikker sal wees as die HAT, wat grootliks op die woordeskat van Standaardafrikaans fokus.

Maar ook die WAT is reeds volledig gedigitaliseer (so ver as wat dit voltooi is), en die laaste deel van die letter S sal ook die laaste gedrukte deel van die WAT wees wat verskyn. Verderaan sal die WAT slegs aanlyn gepubliseer word. Volgende keer meer oor wat Afrikaans nog aan woordeboeke het.



Prof. Herman Beyer

Vakgroep Afrikaans

Universiteit van Namibië

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer