Onderwys - Nou is die tyd vir dapper besluite

Dani Booysen
Godfrey Kleinhans

Dit wil voorkom asof die Covid-19 virus gedurig muteer en dan meer aggressief, meer effektief en dodeliker is.

Die stygende aantal infeksies en sterftes in Namibië is kommerwekkend. Al hoe meer kinders word geraak en die skole wat reeds tydelik hul deure moes sluit, is bewys hiervan.

Ek het onlangs ‘n Whatsapp-boodskap van ‘n parlementslid gekry waarin die ministerie van onderwys duidelik bekommerd oor die stygende infeksies onder kinders is en insette vra oor die besluit om skole te sluit of nie. Ek is nie seker of die boodskap slegs aan parlementslede gerig was of aan die breë onderwysgemeenskap nie.

Ingevolge die boodskap moet die ministerie besluit oor die aard en periode van die sluiting, die grade wat huis toe gestuur moet word en hoe om vir verlore onderrigtyd op te maak.

Dit lyk vir my die ministerie self beskik nie oor genoeg inligting om goeie besluite te neem nie? Is die ministerie onseker of of Covid-19-protokol (maskers, sanitasie, afstand) getrou by alle skole gevolg word? Weet die ministerie of skole oor voldoende water, sanitasiemiddels en seep beskik? Weet die ministerie of kinders se gedrag behoorlik gemonitor word op die skoolperseel tydens pouses, wanneer hulle klasse ruil en die skool verlaat?

Ek het waargeneem kinders keer in smiddae in bondels huiswaarts sonder maskers en dat sekere sportkodes na skool beoefen word. Selfs na die aanvang van die derde vlaag het die aktiwiteite nie verander of verminder nie.

Die besorgdheid oor 'n hernude verlies aan onderrigtyd kom na my mening ‘n bietjie laat.

In die rubriek het ek al dikwels oor die kwessie geskryf. Baie onderrigtyd het verlede jaar weens die sluiting van skole verlore gegaan. Daarna het skole die keuse gehad om groepe leerlinge toe te laat om op alternatiewe dae skool by te woon of om die peletonmodel te implementeer.

Dit wil my voorkom die meeste skole het die alternatiewe-dae-model verkies, wat 'n verdere verlies aan onderrigtyd tot gevolg het. Na my mening moes die ministerie ingegryp het en die peletonmodel afgedwing het.

Ek stel intens in die peletonmodel belang en sal graag wil weet hoe skole wat so te werk gaan sosiale afstand handhaaf. Moet skole gedwonge maar die alternatiewe-dae-model gebruik?

Talle studies wys skole spandeer wêreldwyd selfs in normale tye baie minder tyd aan onderrig as wat leerplanne voorskryf. Dit volg logies dat skoolbywoning op alternatiewe dae nog meer tyd kos.

Volgens my is daar geen manier waarop die ministerie met die model vir verlore tyd kan vergoed nie. Ongelykhede in ons gemeenskappe maak tuis- en aanlynonderrig uiters moeilik.

Tog is dit 'n goeie ding dat die ministerie vir insette vra. Dit kan ook tydens virtuele vergaderings en konferensies plaasvind.

Streeksrade is kort na hul stigting van konferensiefasiliteite voorsien, wat dit maklik sal maak om virtuele gesprekke met verteenwoordigers van onderwysgemeenskappe te voer. So kan verteenwoordigers van die streeksrade, streeksonderwysforums, skoolrade, kerke en ander belanghebbendes betrek word.

Onderwys is tog ‘n gemeenskapsbate.

Die tyd het aangebreek dat die ministerie onderwys as ‘n stelsel met Covid-19-uitdagings bestuur en nie onderwys binne ‘n Covid-19-konteks nie. En om hemelsnaam, kan ons terwille van ons kinders uitdagende en dapper besluite neem...

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer