Olimpiese kampioene kou harde bene

Atletiek
Wim Pretorius – Wayde van Niekerk kan vir eers nog rustig slaap oor sy 400 m-wêreldrekord.
Karsten Warholm van Noorweë kon nie dieselfde vertoning in sy eerste 400 m-wedloop van die seisoen lewer as in Tokio nie. Hy het in die Olimpiese Spele die eerste man geword wat die 400 m-hekkies in minder as 46 sekondes kon aflê.
Hy was vinnig uit die wegspringblokke en het vir sowat 200 m belowend gelyk, maar moes tevrede wees met die vierde plek in 45.51.
Warholm word beskou as die atleet wat moontlik Van Niekerk se tyd van 43.03 kan verbeter indien hy sy aandag op die 400 m toespits, maar hy kon Vrydagaand in Lausanne glad nie op alle silinders vuur in die Diamantliga-reeks nie.
Die Amerikaner Wilbert London was eerste in 45.17 en Isaac Makwala van Botswana tweede in 45.20.
Waar Warholm nie in sy voorkeurnommer in aksie was nie, het verskeie nuut gekroonde Olimpiese kampioene ’n moeilike dag gehad.
• Die verwagte herontmoeting van die gesamentlike Olimpiese kampioene Mutaz Essa Barshim en Gianmarco Tamberi was sonder twyfel die grootste teleurstelling op die byeenkoms.
Barshim het hom kort voor die tyd onttrek, terwyl Tamberi duidelik nog nie van die Spele herstel het nie en in sy eerste byeenkoms as Olimpiese goue medaljewenner net ’n vyfde plek kon behaal.
Dit nadat hy oor die dwarslat geseil het op ’n hoogte van 2,24 m. Hy het een onsuksesvolle poging gehad op 2,27 voordat hy dié hoogte oorgeslaan het en ook nie met sy oorblywende twee pogings op 2,30 kon slaag nie.
Dit was heelwat buite sy vertoning in Tokio waar hy 2,37 gespring het.
Die Rus Ilya Ivanyuk, die bronsmedaljewenner in 2019 se Wêreldkampioenskap, het gewen op 2,30 m.
• Die Kanadees Marco Arop het vir ’n opskudding gesorg toe hy die Olimpiese kampioen in die 800 m, Emmanuel Korir van Kenia, naelskraap geklop het in 1:44.50. Korir was ’n kortkop agter hom in 1:44.62.
Arop kon in Tokio nie verder as die halfeindronde vorder nie.
• Net so kon die Jamaikaan Hansle Parchment nie sy Spele-vertoning herhaal nie en het laaste klaargemaak in die 110 m-hekkies in 13.58 sek. Devon Allen van Amerika het gewen in 13.07.
• Die Spele-kampioen en wêreldrekordhouer in die paalspring, Armand Duplantis, kon ook nie die mas opkom nie.
Hy kon net ’n vierde plek behaal met ’n hoogte van 5,62.
Dié slag het die spogregte aan die Olimpiese silwermedaljewenner, Christopher Nilsen van Amerika, behoort. Hy was die enigste een oor die dwarslat met sy eerste poging op 5,82 m.
• Shelly-Ann Fraser-Pryce het in die 100 meter haar landgenoot en goue medaljewenner in Tokio, Elaine Thompson-Herah, geklop in 10.60 – ’n nuwe byeenkomsrekord. Sy verbeter Marion Jones se rekord van 10.72 presies 23 jaar en ’n dag later.
Thompson-Herah verbeter self dié tyd in 10.64 vir die tweede plek.
• Die Olimpiese kampioen in die gewigstoot, Ryan Crouser, was een van enkeles wat nie gegly het nie.
Hy teken 22,64 m met sy laaste gooi aan om met die louere weg te stap volgens die “finale drie-reël” waarvolgens die voorste drie deelnemers ná die voorlaaste ronde sake uitspook met hul laaste gooi en die wenner volgens die beste afstand in dié ronde bepaal word.
Die Kiwi Thomas Walsh moes weer eens tweede viool speel teen Crouser en eindig met 22,10 m.
• Jakob Ingebrigtsen, Olimpiese kampioen oor 1 500 m, moes hard werk vir sy oorwinning in die 3 000 m, maar het genoeg in die tenk om te wen in 7:33.06, net 0.33 sekondes voor Ethiopië se Berihu Aregawi.
• Mariya Lasitskene van Rusland kon ook op haar Spele-glorie voortbou deur die hoogspring te wen nadat sy met haar eerste poging oor die dwarslat geseil het op ’n hoogte van 1,98 m.
• Yulimar Rojas van Venezuela het die Diamantliga-rekord in die driesprong tot 15,56 m verbeter in ’n uitstekende vertoning waar sy vier keer verder as 15 meter gespring het.
– Netwerk24

FOTO’s
Van links: Mujinga Kambundji van Switserland, Elaine Thompson-Herah van Jamaika, Shericka Jackson van Jamaika, Shelly-Ann Fraser-Pryce van Jamaika, Marie-Josee Ta Lou van Ivoorkus en Ajla Del Ponte van Switserland seil oor die eindstreep van die vroue 100 meter in Lausanne, Switserland. Foto Nampa/AP

Christopher Nilsen van die VSA het die mans paalspring gewen. Foto Nampa/AP

Kommentaar

Republikein 2025-09-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer