Nog leerlingdokters wag om uitgeplaas te word

’n Volledige toekenningslys vir 95 poste sou verlede Vrydag uitgestuur word.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Meer as 100 leerlingdokters wag glo reeds maande om vir internskappe by staatshospitale oraloor in die land uitgeplaas word.

Die 166 leerlingdokters sluit 60 gegradueerdes van die mediese skool van die Universiteit van Namibië (Unam) in, asook 106 wat in die buiteland gestudeer het.

Volgens die uitvoerende direkteur in die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS), mnr. Ben Nangombe, kry die plasing van leerlingdokters aandag van die ministerie.

“Die kwessie word ondersoek. Sommige is reeds uitgeplaas,” het hy gesê.

Volgens ’n ingeligte bron naby aan die leerlingdokters sluit die groep 46 studente wat in Rusland gestudeer het, 34 in Oekraïne, 18 in China, drie in Suid-Afrika, twee in Algerië, twee in Zambië en een wat in Turkye gestudeer het. Dié groep het die Raad vir Gesondheidsberoepe in Namibië (HPCNA) se evalueringseksamen geslaag om met hul internskappe te mag begin.

Volgens die bron het die groep naby die einde van Maart gehoor hulle sou in April as leerlingdokters inval. Met die aankondiging van die grendeltydperk is sake egter verander. Tydens ’n ontmoeting op 22 April is aan die groep gesê die ministerie het glo net plek vir 95 leerlingdokters en hulle sal moontlik “in groepe moet begin werk namate poste beskikbaar raak”.

“Hulle (die ministerie) het gesê leerlingdokters is reeds in die 95 poste uitgeplaas en dat dié groep so gou as moontlik sou begin,” sê die bron.

Die volledige toekenningslys van die 95 poste sou verlede Vrydag uitgestuur word met dien verstande dat die groep die eerste week in Junie sou inval.

Verlede week is die groep egter laat weet die lys gaan nie meer vrygestel word nie omdat dit nou “vertroulik” is.

“Tans verkeer die groep in onsekerheid met geen kommunikasie van die ministerie nie.”

Volgens die bron is die groep bekommerd die aanvangsdatum vir hul internskappe is nou weer nog ’n maand na Julie uitgestel. Ook weet niemand hoe die toekennings uit die 106 gegradueerdes vir die beskikbare 95 poste gedoen is nie.

“Dit is teleurstellend – nadat hulle vir so lank so hard gewerk het, ’n passie ontwikkel het vir hul rol as gesondheidsdiensverskaffer en ’n vertroue ontwikkel het in hul vaardighede om vir ander te sorg. Net om maand ná maand sonder enige formele terugvoer van die regering te moet wag.”

Volgens die bron het baie van die leerlingdokters families vir wie die gegradueerdes na die beste van hul vermoëns tydens hul studie van ses jaar ondersteun het.

“Die regering het soveel geld plaaslik en in die buiteland in die opleiding van hierdie leerlingdokters gestort. Dit is amper belaglik dat hulle nie onmiddellik begin om die belastingbetalers wat daardie studies moontlik gemaak het, te begin dien nie.”

Die kabinet het vroeër ‘n salarisbegroting van byna N$87 miljoen goedgekeur vir meer as 3 000 gesondheidswerkers vir ‘n tydperk van ses maande in die land se stryd teen Covid-19. Dit sluit 2 605 mediese en ondersteuningspersoneel en wel 136 dokters in.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer