NIIHA-spanne oefen met doel voor oë

Rolskaatshokkie
Die nasionale oefengroepe in rol­skaatshokkie het laas naweek weer aan die werk gespring ter voorbereiding op die wêreldkampioen­skap wat vanjaar gedurende Augustus en September in Colombia aangebied word.

Met die hernude versekering van die wêreldbeheerliggaam dat die toernooi wel sal plaasvind, het die Namibiese spanne by The Dome in Swakopmund versamel om hul oefenprogram te hervat.

Namibië stuur vanjaar sy junior manspan asook die junior vrouespan na Colombia.

Die Namibiese Rolskaats- en Yshokkievereniging (NIIHA) se oefenkamp die naweek was gesentreer op fiksheid, vaardigheid en spanbou. Die onderlinge gees was opgewek en die spelers was gemotiveerd deur die uitdagings wat aan hulle gestel is.

Die hoofafrigter van die Namibiese nasionale hoëprestasie- en ontwikkelingsprogramme, Brian Sobel, het agterna gesê: “Ek is opgewonde om almal weer te sien. Daar is baie werk om te doen in die opbou na die toernooi, maar hierdie is 'n talentvolle groep en ons het 'n diep geloof dat Namibië weer eens die wêreld van rolskaatshokkie kan verras.”

Sobel het verwys na die junior manspan se merkwaardige lopie in 2019 toe hulle sesde by die wêreldtoernooi geëindig het – verreweg die beste vertoning deur enige Afrika-span in 'n sport wat deur Noord-Amerikaanse en Europese lande oorheers word.

Die junior mansgroep het vier oorblywende “veterane”, by name Christian Coetzee, Sean Liechti, Pablo Laporte en Henrik Diekmann.

Dié viertal vervul die taak om die jonger nuwelinge met leierskap en motivering te voorsien.



VROUE EWE TALENTVOL

Die junior vrouespan bestaan ten volle uit spelers wat op hul eerste mededinging by 'n wêreldkampioenskap voorberei.

Agt van die spanlede het wel reeds in internasionale toernooie in Amerika en Spanje hul land verteenwoordig en goeie prestasies gelewer.

Van die belangrike vrouespelers is die verdedigers Christine Röttcher, Corinna Weimann en die doelwagter Michelle Wirtz, wat twee jaar gelede in die VSA elkeen 'n individuele toekenning losgespeel het in 'n toernooi saam met en teen seuns in hul ouderdomsgroep.

Die State Wars toernooi was 'n skouspel met meer as 350 spanne, wat elf lande verteenwoordig het.

Nog vyf spelers in die junior vrouespan was ook lede van dié groep wat twee goue en een silwermedalje uit Amerika huis toe gebring het.

Onder Sobel se mentorskap het die land se nasionale rolskaatshokkieprogram beduidende vordering getoon. Oor die laaste ses jaar het die junior mans vanaf die 18de posisie tot sesde op die wêreldranglys geklim.

Die Namibiese senior vrouespan is die afgelope drie jaar konstant onder die topagt ter wêreld. As deel van die jeugprogram is sewe spanne in die laaste twee jaar na oorsese toernooie gestuur, waar hulle sewe medaljes verower het.

Sobel sê: “Daar is goeie, hardwerkende spelers oral. 'n Klein bietjie selfvertroue en hulp in die regte rigting maak 'n groot verskil. Die Namibiese spelers werk hard en het oor die jare beleef hoedat hulle die groot lande kan aanvat.

“'n Program se sukses word nie net aan syfers gemeet nie, maar ook met emosie. Namibiese spelers het baie hart en veggees en is nie bang om hard te werk nie.”

Sobel was tevore twee keer opeenvolgens die afrigter van die jaar in die Amerikaanse professionele liga (AIHL) en sy spanne het verskeie nasionale kampioenskapstitels in die VSA verower.

Kommentaar

Republikein 2025-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer