NBC pos Swapo se vakbond

Die nasionale uitsaaier ervaar steeds finansiële probleme en hoop die regering sal help
Augetto Graig
Augetto Graig en Ogone Tlhage – Die Namibiese Uitsaaikorporasie (NBC) het sy erkenningsooreenkoms met die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu) opgeskort nadat die vakbond nie binne die wetlike grasieperiode kon bewys dat meer as die helfte van werknemers ingeskrewe lede is nie.

'n Opponerende vakbond het reeds sy oog op die jarelange bastion van Swapo se vakbondfederasie.

Die nasionale uitsaaier se direkteur-generaal, mnr. Stanley Similo, het die wending aan Republikein bevestig.

Minder as 46% van werkers ondersteun Napwu.

Similo sê die NBC verskaf tans werk vir 533 werknemers landwyd. Omtrent 245 is dus lede van Napwu.

Volgens Similo sal die verlies van die status nie noodwendig werknemers benadeel nie. “Die bestuur en die raad sal altyd die belange van werknemers op die hart dra en hierdie verwikkelinge sal nie verhoudings tussen werknemer en werkgewer beïnvloed nie,” sê hy.

Toekomstige onderhandelinge oor salarisverhogings sal volgens Similo "binneshuis" geskied en die direksie sal versoeke soos altyd met die regering as aandeelhouer bespreek.

Oor die NBC se vermoë om salarisse te betaal, sê Similo: “Die NBC se bedryfsbegroting en ontwikkelingsbegroting word grootendeels op aandeelhouersvlak vasgestel. Die aandeelhouer (regering) dek omtrent 71,5% van die NBC se bedryfskoste terwyl die uitsaaier sowat 28% bydra deur eie inkomstegenerering. Vir die betrokke boekjaar, 2021/'22, is ons subsidie met 62% verminder en die aandeelhouer weet dit en gee aandag daaraan.”

Gesprekke tussen die bestuur, direksie en regering duur volgens Similo voort oor hoe tekorte tot en met die einde van die boekjaar in Maart 2022 gefinansier kan word.

Nietemin adverteer NBC tans vir die verkryging van nuwe IT-toerusting, televisietoerusting en lugversorging in hul nuuskantoor in Windhoek. “Deel van ons uitdaging is die verouderde toerusting en gebrek aan die voortydige vervanging daarvan," verduidelik Similo.

"Daar is ’n ontwikkelingsbegroting voorsien deur die aandeelhouer, soos goedgekeur deur die Nasionale Beplanningskommissie (NPC), die ministerie van finansies en ons lynministerie. Die riglynbedrag hiervoor is N$50 miljoen,” sê Similo.

Intussen sê die Unie vir Staatsdienswerkers in Namibië (PSUN) dat hulle graag die belange van NBC werknemers wil opneem.

Volgens PSUN se hoofsekretaris, mnr. Pauli Sitentu, is hul aandag veral op kontrakwerkers gespits. Kontrakte sonder voordele is ’n groot kwessie vir die vakbond.

“Ons het daarin geslaag om deur die dokumente te kyk. Ons het gesien dat daar wanpraktyke aan die gang is en as die PSUN neem ons dit op," het hy verduidelik. "Waarom gee NBC vir werknemer A voordele, maar nie werknemer B nie?” wou Sitentu weet.

Sitentu sê ook die korporasie moet aanspreeklik gehou word vir die weerhouding van salarisse tydens 'n onlangse staking.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-03-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer