Namibiërs gee hoop vir wêreld

Tanja Bause
Tanja Bause – Twee video’s van die lied “We are the World” wat deur Namibiërs gesing word, word tans op sosiale media versprei.

Die eerste video is op Rehoboth deur 27 van die dorp se musikante en kunstenaars gemaak.

Volgens mnr. Francois Bock, wat deel was van die video, het me. Jennifer Dunn ’n versoek op sosiale media geplaas en kunstenaars uitgenooi om deel van die video te wees.

“Die idee was om ons dorp se kunstenaars bekend te stel, om bewustheid oor die coronavirus te skep en om meer betrokke te raak.

Ons het laat in April ontmoet en besluit om iets te doen,” het hy gesê.

Hulle het in JR Music Production se studio op Rehoboth bymekaargekom en die lied opgeneem.

“Ons het eers die verskillende kunstenaars en hulle instrumente as ’n groep opgeneem. Daarna het die sangers ingekom en ons het hulle opgeneem.”

Volgens hom was dit glad nie die idee om ’n kompetisie te begin nie.

“Die idee was om bymekaar te kom en bewusmaking te skep oor sosiale afstand, die belangrikheid om gesigmaskers dra en handreinigers te gebruik. Die idee was om vir die wêreld en Namibiërs te sê daar is altyd hoop. Dit gaan nie vir ons oor wie se video was eerste of wie se video is mooier nie. Die lied is geskryf om vir die wêreld te sê daar is altyd hoop en dit is ons boodskap. Moet nie opgee nie, hou aan, bly glo, daar is altyd hoop.”

“Ons is bly dat Keetmanshoop ook ’n video gemaak het, want elke dorp sit sy eie unieke styl by. Hulle het die Nama-gedeelte bygesit en dit is baie uniek. Natuurlik kan ander dorpe dit ook doen. So kan ons Namibië bevorder, maar dit moet nie ’n kompetisie wees nie.”

Volgens Bock is hulle tans besig om die tweede video op te neem.

“Die groep het besluit ons is nie net ’n groep vir een lied nie. Ons sal aangaan en nog opneem en dit binnekort op sosiale media plaas.”

Keetmanshoop

Die video was die idee van me. Bessie McKay, die aktiwiteite-bestuurder van die Keetmanshoop Landbou, Industriële en Toerisme Ekspo.

“Ek het al in Januarie besluit om die jaar by die ekspo net van plaaslike kunstenaars van Keetmanshoop gebruik te maak. Ons gebruik altyd kunstenaars uit Suid-Afrika en skeep die plaaslike kunstenaar af,” het sy gesê.

Weens die Covid-19-pandemie is die ekspo egter gekanselleer en McKay het besluit om nog steeds ’n video met die plaaslike kunstenaars te maak.

“Ek het die lede van die a cappella-groep #Voice-note genader en gevra om te help om sangers soek. Ons het binne dae 57 Keetmanshopers gekry wat deel van die projek wou wees, waarvan 30 deel van die video was. Ons het op 16 Mei vir die eerste keer bymekaargekom en die lied drie dae later opgeneem. Die video is gemaak en verlede week op sosiale media geplaas.”

Volgens McKay kon elke deelnemer ’n deel van die lied “We are the World” kies wat hulle wou sing en waarmee hulle gemaklik was.

“Ons het besluit om die lied te sing, want die wêreld is deur die pandemie geraak. Die pandemie het ons almal verenig. Ons wou met die video mense wat geraak is ’n bietjie troos bied.”

Mnr. Lorens Swartbooi het ’n vers van die lied in Nama, sy moedertaal, vertaal en gesing.

“Ek het vir die kletsrymer mnr. Romello Isaacks gevra of hy nie ’n stukkie vir ons kan rym nie. Hy het ’n stukkie spesiaal vir die opname geskryf. Dit en die Nama-deel maak die lied uniek aan Keetmanshoop.”

Die kunstenaars kon self besluit waar hulle hul gedeelte van die lied wou opneem.

“Ons wou net ’n kreatiewe video maak wat terselfdertyd ons dorp aan die wêreld bekend stel. Ons het in die dorp self, asook in Krönlein, Tseiblaagte en Noordhoek verfilm. Ons het van 10:00 tot 19:00 van die een plek na die ander gery, maar ek dink ons video wys nie net ons mense en hulle talent nie, maar ook ons dorp.” - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer