Namdeb steun gesondheidswerkers

Die diamantmyngroep gaan uit sy pad om in die stryd teen die pandemie behulpsaam te wees.
Augetto Graig
Augetto Graig



Namdeb-werknemers het laas week besoek afgelê en geskenke gebring vir gesondheidswerkers by die Katutura-, Windhoek Sentraal- en Oranjemund-hospitale.

Die woordvoerder vir die diamantmyngroep, me. Shangelao Ndadi, sê die maatskappy is bewus hoe die dodelike golf van die Covid-19-pandemie almal negatief impak.

“Ons het groot respek en waardeer die werkers in die voorste linie wat weens die aard van hul werk om mense se lewens te red selfs aan groter risiko as die gewone persoon blootgestel word. Ons gesondheidswerkers werk onvermoeid onder uitdagende omstandighede om ons veilig en gesond te hou terwyl hul eie lewens fisiek en emosioneel in gedrang is,” het sy gesê.

Namdeb het hom reeds laas maand daartoe verbind om tot einde Julie suurstof aan die Keetmanshoop staatshospitaal te verskaf. Die diamantmyngroep verseker dat 35 suurstofsilinders (10 kg elk) per week by die hospitaal afgelaai word, ter waarde van N$320 000.

By die aankondiging het Namdeb se uitvoerende hoofbeampte, mnr. Riaan Burger, gesê: “Met die ernstige impak van die virus is daar baie wat gedoen moet word, en ons moet hulp aanbied waar ons kan. Met die Keetmanshoop hospitaal op die voorstoep van ons bedrywighede maak dit sin dat ons intree om die druk op die hospitaal te verlig. Ons het aanvanklik van die beskikbare silinders van ons privaat hospitaal in Oranjemund gestuur, maar later besef ons moet nog meer doen,” het hy gesê.

By dieselfde geleentheid het Keetmanshoop se gesondheidsdirekteur, me. Sandra Owoses gesê: “Hierdie skenking sal pasiënte in drie hospitale in die streek help, insluitend Keetmanshoop, Lüderitz en Karasburg. Ons waardeer dat Namdeb uit sy pad gaan om die regering in die pandemie tegemoet te kom.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer