N$30 se ironie

Dani Booysen
WILLEM DE WET SKRYF:

Die uitreik van die nuwe N$30-noot kon seker nie op 'n slegter tyd gekom het nie en dit kon seker ook nie 'n slegter prentjie skets van ons leiers se absolute minagting van die werklikhede op die grond en oor ons land se nydige en selfverrykende politiekery nie.

Op die noot pronk ons mees resente en enigste drie presidente. Rond in die gesig en mooi toegedraai met groot glimlagte, asof daar iets is om verskriklik trots op te wees.

Ja, ons is almal dit eens dat ons patriotiese Namibiërs in murg en been is en dat ons ons onafhanklikheid koester, maar dat daar tans min is om op trots te wees staan soos 'n paal bo water.

Miskien sou dit beter afgegaan het as die noot prentjies opgehad het soos die sigaretpakkies wat aandui wat met ons en die land gebeur as ons leiers kies wat toelaat dat goed soos korrupsie, verval, geldgierigheid, onkunde, politiekery en nepotisme hoogty vier. Wat van 'n prentjie van die Fishrot-manne of 'n vervalle skool, stukkende pad, of riool wat in die strate afloop wat aandui waar ons nou na 30 jaar staan eerder as om mense op 'n noot te vereer, omdat hulle toegelaat het dat dit op hulle skof gebeur?

Wat is die boodskap wat hieruit kom? Hoe meer jy op jou skof laat val, hoe meer word jy op die hande gedra en hoe meer monumente en erenote word in jou naam uitgebring en gebou met geld wat jy as opperbevel met belastings en heffings vat van die armes wat onder jou heerskappy nou nog armer geword het.

Ek sal maar swaar die nuwe noot in my beursie indruk, want wie weet wat broei tussen my laaste oorblywende sente uit terwyl ek my aandag elders vestig.

Sien op die noot is 'n scratchpad wat na vis ruik as jy daaroor streel.

Die noot kan blykbaar as aas gebruik word om verskeie onwettighede mee aan te vang.

Met die Fishrot-aroma en die drie skerp, ingeboude hoeke sal niks verby gaan sonder om gehaak te word nie.

Groete en lekker visvang!

Kommentaar

Republikein 2026-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer