’n Doodgewone Vrydag vir my, dankie

[email protected]
Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis

Ek weet nie van jóú nie, maar die sogenaamde “Black Friday” het my net minder as ’n week gelede ietwat onkant betrap. Die jaar het met tye ongelooflik stadig verbygegaan, en met tye teen ’n stink spoed beweeg. Ek het net nie besef Desembermaand is só naby om die draai nie (ek het selfs my ouers se huweliksherdenking vergeet!). Kort voor lank was elke moontlike nuus- en sosialemediaplatform propvol “ongelooflike, aardskuddende winskope” wat ons dié komende Vrydag te wagte kon wees.

Soos die geluk dit wou hê, het ek vanjaar op dié spesifieke Vrydag ’n “groen dag” gehad. Ons pay het net die dag vantevore ingekom – meeste mense sou dit as ’n teken beskou dat hulle die massas moet aandurf. Daar was egter twee (baie belangrike) stukke gereedskap wat ek nié tot my beskikking gehad het nie: die geduld om die ellelange toue aan te durf en die bravade om die chaos te trotseer.

Ondanks alles wat ons as ’n samelewing die afgelope twee jaar moes deurmaak – waaruit sommige dalk ’n waardevolle les of twee geleer het – is materialisme deel van die menslike natuur. Ons hou daarvan om goed te “hê”, en ons wil nié duur betaal vir daardie goed nie. Daar is iets aan ’n bargain wat ’n mens se primitiewe kant na vore bring. In my kop is Guns N’ Roses se “Welcome to the jungle” die temalied van Black Friday. Die oomblik as die winkeldeure oopgaan – of afgebreek word – is dit elke man, vrou en kind vir hulself. Dit is een van die beste moderne voorbeelde van “survival of the fittest”; ek wonder nogal wat Darwin sou sê as hy ’n Black Friday in die Wernhil-inkoopsentrum moes beleef!

Gesonde verstand en goeie oordeel word ook nie juis in oormaat op dié dag benut nie. Dié elemente word deur die winskoop-waas oorskadu. Selfs dié wat gewoonlik suinig is, val soms vir specials wat nie eintlik baie spesiaal is nie. Koop drie items by Foschini, dan kry jy die vierde een gratis! Wat? Jy is nie ernstig nie! Mens vergeet egter dat jy steeds ’n pretty penny vir die ander drie items betaal, en die een wat jy gratis kry sal uiteraard die goedkoopste een wees. Logika sal egter nie in die pad staan van één Foschini-kopband wat jy verniet kan kry nie. En môre lyk jy vir jouself dik in die denimbroek waarvoor jy nog steeds N$750 betaal het.

Vir my is daar iets onheilspellend aan die naam “Black Friday”, of seker dan “Swart Vrydag” in Afrikaans. Dit laat dink my aan een of ander Bybelse plaag of iets te doen met die builepes-pandemie van die 1300’s, oftewel die Swart Dood. As jy mooi daaroor dink, lyk dit nogal of sommige winskoopjagters deur iets besete is – skuim om die mond, wilde oë en ’n tendens om gewelddadig te raak as iemand iets uit jou hande probeer gryp.

Nie vir my nie, dankie! Ek het daardie Vrydag liefs besluit om eerder by die huis te bly. Meeste van die specials het in elk geval tot die Sondag gegeld!

Kommentaar

Republikein 2025-05-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer