’n Aardskuddende Paasnaweek

[email protected]
Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis

Ek was onder die indruk my Sê Maar Net-beurt gaan vroeër in Aprilmaand val, so die onderwerp wat ek in gedagte het, is dalk al effens verouderd.

Maar daar gebeur nie baie interessante en opwindende dinge in my jong lewe nie, so ek het nie enige vars idees op die oomblik nie. Soos die Engelse mense sal sê: “Just bear with me.”

Ek het ’n paar weke gelede weer vir ’n slag die geleentheid gehad om plaas toe te gaan vir Paasnaweek. Op ’n onverwante noot, wat ’n gesig was dít nie! Ek kon nie glo dit is dieselfde plek nie. Die stof en sand het plek gemaak vir kniehoogte gras, net waar jy kyk! Ek was opgewonde om hooikoors te kry, want vir die afgelope agt jaar wás daar niks om vir ons hooikoors te gee nie.

In elk geval, om terug te keer na my oorspronklike storie. Op Paassondag, 4 April, tussen drieuur en vieruur dié oggend, het een van die grootste aardbewings (op rekord) in Namibië in die Noordweste voorgekom. Jy sou daarvan gelees het, dalk selfs die skudding honderde kilometers ver weg gevoel het. Die aardbewing het 5,6 op die Richterskaal gemeet en ons plaas, wat tussen Kamanjab en Khorixas geleë is, was baie naby aan die episentrum.

Ek het wakker geskrik van die dreuning. Ek het eers, deur die slaap, gedink dit is donderweer. Tot ek besef het die bed skud, die mure skud, die vloer skud. Voor daar tyd was om dié inligting te verwerk, kom Boetie by die kamer ingestorm. “Yandi! Word wakker! Hier’s ’n aardbewing!” Hy sit die lig aan en storm uit om dié aardskuddende nuusbrokkie met die res van die huis te deel. Op die ou einde het die gesin saam in die gang gestaan en wag vir die aarde om stil te raak. Die ervaring is moeilik om te beskryf. Ek sou nie noodwendig sê ek was bang nie, maar dit was vreemd. Gewoonlik hoor ons die aardbewings, eerder as om hulle te voel. Om die hele gesin (en natuurlik die liewe boerboel, Rollo) bymekaar te hê, het egter ’n gevoel van sekuriteit gebring.

Gepraat van Rollo: Dié reusedier (hy weeg twee keer so veel soos ek) was die vorige aand en in die vroeë oggendure baie onrustig. Meer onrustig as wat hy in die aande teen agtuur is as hy nog nie kos gekry het nie.

Glo my, hy kan ’n ordentlike keel opsit, beter as ’n ontevrede kleuter. Dit het my laat dink aan iets wat ek een keer gelees het oor honde en ander diere wat blykbaar kan aanvoel as daar ’n aardbewing op pad is. Daarna moes ek natuurlik Google raadpleeg, want ek is mal daaroor om reg te wees. En inderdaad: Sommige wetenskaplikes stel voor dat honde seismiese aktiwiteite wat voor aardbewings aangaan, soos die skraping, wrywing en breek van rotse ondergronds, kan hoor.

Ek het verder gelees, en afgekom op ’n artikel oor ’n metode wat wetenskaplikes glo in China ontwikkel het om aardbewings te voorspel, deur die neiging waar te neem van slange wat hulself kop-eerste in mure in slinger. Ek weet nie van jou nie, maar dít was vir my nogal ’n interessante brokkie inligting só vroeg op ’n Paassondag.

“Van al die wesens op die aarde is slange miskien die gevoeligste vir aardbewings,” het Jiang Weisong, direkteur van die aardbewingburo in Nanning, in die suide van die provinsie Guangxi, aan The China Daily gesê.

Slange kan 'n komende aardbewing van 120 km weg aanvoel, tot vyf dae voordat dit gebeur. Hulle reageer deur uiters onvoorspelbaar op te tree. “Wanneer 'n aardbewing op pad is, sal slange uit hul neste beweeg, selfs in die koue winter. As die aardbewing groot is, sal die slange hulself selfs in mure in slinger in ’n poging om te ontsnap,” het hy gesê.

Volgens die artikel tree honde en hoenders ook abnormaal op as 'n aardbewing aan die kom is.

Die natuur is wonderlik, en dit was op ’n manier nogal simbolies om weereens op Paasnaweek oor die wonder van die skepping herinner te word. Beslis deur die bogenoemde, maar ook weereens deur die wonderlike reën wat in die droë Noordweste geval het.

Kommentaar

Republikein 2026-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer