Mluleki George dood aan virus

Sport
Mluleki George, die politieke swaargewig en prominente figuur in Suid-Afrikaanse sport, is aan Covid-19 dood.
Danny Jordaan, president van die Suid-Afrikaanse sokkervereniging (Safa) en jarelange vriend van George, het aan News24 gesê hy het die nuus met skok ontvang en bevestig hy is dood nadat hy die koronavirus opgedoen het.
George (72) is Donderdag in Oos-Londen dood.
Hy was ’n sleutelfiguur in Suid-Afrikaanse sport nadat die land weer tot die internasionale arena toegetree het, en het gedien op die destydse Nasionale Olimpiese Komitee (Noksa).
Hy het ook op die Internasionale Rugbyraad gedien en was ’n raadslid van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie.
George was ’n lid van die parlement en voormalige adjunkminister van verdediging.
Hy was saam met Mosiuoa Lekota een van die ANC-ringkoppe wat in 2008 Cope gestig het. George was die tesourier-generaal van die party.
Sy afsterwe volg op die dood van ander prominente sportfigure, Leonard Chuene van Atletiek Suid-Afrika en Ryder Mofokeng, voormalige kaptein van Kaizer Chiefs.
– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer