Manny Pacquiao sê koebaai vir die bokskryt

Boks
Manny Pacquiao, wat Woensdag sy uittrede uit boks aangekondig het, sal onthou word as een van die beste en gewildste boksers die afgelope 40 jaar.
Die 42-jarige Pacquiao het reeds ’n paar weke gelede aangekondig dat hy volgende jaar gaan probeer om die Filippyne se volgende president te word.
Hy het sy uittrede uit boks in ’n video van 14 minute op Instagram aangekondig.
In die video bedank ’n emosionele Pacquiao die ondersteuners wat hom al die jare aangemoedig het.
“Dankie dat julle my lewe verander het, toe my familie desperaat was, het julle ons hoop gegee, julle het my die kans gegee om my pad uit armoede oop te baklei,” sê Pacquiao.
“Danksy julle was ek in staat om mense oral in die wêreld te inspireer. Danksy julle het ek die moed gekry om nog meer lewens te probeer verander.”
Pacquiao sê hy het danksy boks dinge in sy lewe reggekry wat hy nooit gedink het moontlik was nie, maar nou het hy “die laaste klok” gehoor en is sy dae as bokser verby.
Reuters berig dat Pacquiao armoedig grootgeword het en dat hy allerhande werkies moes doen om aan die lewe te bly.
Hy het in 1995 ’n beroepsbokser geword toe hy net 16 jaar oud was.
Hy het eindelik die enigste bokser tot nog toe geword om wêreldtitels in agt verskillende gewigsafdelings te wen.
Pacquiao het 62 van sy 72 beroepsgevegte gewen, hy het agt verloor en nog twee het gelykop geëindig.
Van sy beste oorwinnings was oor gedugte vegters soos Marco Antonio Barrera, Oscar de la Hoya, Miguel Cotto en Shane Moseley.
Hy het Suid-Afrika se Lehlohonolo Ledwaba in 2001 as die Internasionale Boksfederasie se super-kapokgewigkampioen onttroon.
Een van sy mees omstrede nederlae was in 2015 teen Floyd Mayweather in Las Vegas. Pacquiao was deurgaans die meer aggressiewe vegter, maar die beoordelaars het die geveg met punte aan Mayweather toegeken.
Pacquiao het in 2007 vir die eerste keer probeer om tot die Filippyne se kongres verkies te word.
Hy het dit in 2010 reggekry om ’n plek in die laer huis van kongres te wen en het toe die suidelike Sarangani-provinsie verteenwoordig.
In 2016 is hy tot die kongres se hoër huis bevorder. Pacquiao was aanvanklik een van president Rodrigo Duterte se groot ondersteuners.
Hy het die president ondersteun in sy stryd teen dwelmhandel en het met hom saamgestem dat die doodstraf weer ingestel moes word.
Hul vriendskap het egter verlede jaar versuur omdat Pacquiao Duterte se vriendelike verhouding met China gekritiseer het. Pacquiao het ook begin om korrupsie in die regering oop te vlek.
– Netwerk24

FOTO’s
Manny Pacquiao is een van die kandidate in die Filippyne se presidentsverkiesing.

Yordenis Ugas van Kuba besig om Manny Pacquiao in Augustus vanjaar slae te gee in Las Vegas. Dit was Pacquiao se laaste geveg in die beroepskryt. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2025-06-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer